Die gedagte dat klassieke musiek en opera ’n Eurosentriese bedryf is, het onlangs nog ’n gevoelige hou gekry met die aankondiging van die wenners van die Amazwi Omzansi Africa- sangkompetisie wat in Durban aangebied is.
JOHAN MYBURG
Die gedagte dat klassieke musiek en opera ’n Eurosentriese bedryf is, het onlangs nog ’n gevoelige hou gekry met die aankondiging van die wenners van die Amazwi Omzansi Africa- sangkompetisie wat in Durban aangebied is.
Enigeen met ’n oop oor is maar te bewus van die toenemende sukses wat Suid-Afrikaners op internasionale verhoë en in operahuise behaal. En dan is daar sangers soos die bariton Njabulo Madlala wat ook daarop ingestel is om jong talent in Suid-Afrika te ontgin.
Vir dié doel het hy in 2013 met die Amazwi Omzansi Africa- fees en kompetisie vir sangers vorendag gekom.
Soos Madlala opmerk is die talent in die land gewis daar, maar geleenthede en behoorlike infrastruktuur om dié talent tot wasdom te bring, dié ontbreek grootliks.
Madlala, wat tans in Londen woon en werk, was verlede week een van die soliste in die uitvoering van die KwaZulu-Natal Filharmonie se weergawe van Carmina burana (Orff) in die Durban Stadsaal. Verlede jaar was hy die Standard Bank Jong Kunstenaar vir musiek en in 2012 het hy die gesogte Kathleen Ferrier-kompetisie gewen.
Kyk na dié video wat meer agtergrond bied oor Njabulo Madlala, die stukrag agter die Amazwi Omzansi Africa- sangkompetisie.
Die bariton Owen Metsileng het vanjaar die eerste prys (R10 000) in die Amazwi Omzansi-kompetisie gewen. Die sopraan Caroline Modiba het die tweede prys (R5 000) verower en die sopraan Khumbuzile Dlamini die derde prys (R3 000). Die gehoorprys (R2 000) is toegeken aan Modiba.
Die Voorsittersprys (R2 000) is toegeken aan Msimelelo Mbali (bas). Die prys vir die belowendste sanger (R2 000) is toegeken aan Slindo Zondo (sopraan).
Die ander finaliste was Slindo Zondo (sopraan), Godfrey Zunguza (bas), Tshilidzi Ndou (bariton), Charity Leburu (sopraan), Thabiso Masemene (tenoor), Emmanuel Maqoma (bas), S’Bongile Mntambo (sopraan), Wayne Mkhize (tenoor) en Msimelelo Mbali (bas).
Die sangers is in die eindronde begelei deur die Britse pianis Annette Saunders.
Die beoordelaars, gelei deur Madlala, was vanjaar Sibongile Khumalo, Sally Burgess, Violina Anguelov, Neal Thornton, Bronwen Forbay, Marcus Desando, Vetta Wise en Susan Sonnenberg.
Ná landwye oudisies word 35 sangers gekeur om deel te neem aan dié kompetisie. Dié sangers het vanjaar in Durban deelgeneem aan ’n week lanke meesterklas en werksessies voordat die halfeindronde plaasgevind het in die Howard Collage-teater van die Universiteit van KwaZulu-Natal op 15 Augustus het en die eindronde op 16 Augustus.
In aanloop tot die eindronde het Madlala en Bronwen Forbay ’n konsertweergawe van Verdi se La traviata aangebied.
Owen Metsileng
Metsileng wat vroeër vanjaar die naamrol in Brett Bailey se Macbeth gesing het op die Australiese Acukland-fees, kom van Rustenburg in Noordwes waar hy as kind begin sing het in kerk- en skoolkore. Sy deelname aan kompetisies het met die Titisano-kooreisteddfod begin.
Hy was lid van die Black Tie Ensemble in Pretoria voordat hy in 2010 lid geword het van die Kaapstad Opera (CTO). In dié geselskap se aanbieding van Gershwin se Porgy and Bess het hy die rol van Jake vertolk en dié van Marcello in Pussini se La bohème.
Hier is ’n lokprent vir Brett Bailey se Macbeth waarin Metsileng die naamrol gesing het.