Met die aanmoediging van Louis XIV, die Sonkoning, het die musiekbedryf en Frankryk en elders geskitter
Johan Myburg
Die regering van die Franse koning Louis XIV (1638-1715) – het regeer van 1643 tot en met sy dood – met die klem op ’n gesentraliseerde het dit nie net implikasies vir Frankryk gehad nie, maar het ook die model geword vir die res van Europa.
In die tyd wat algemeen bekend is as die middel-Barok (1630-1680) het konserte aan die Franse hof en ander openbare uitvoerings al meer gewild geraak en was daar ’n groeiende aanvraag vir instrumente vir kamermusiekuitvoerings. Dit was dié aanvraag wat aanleiding gegee het tot die voortreflike instrumentmakery van die Italianers Antonio Stradivari (1644-1737) en sy latere eweknie Giuseppe Guarneri (1698-1744).
En met die aanmoediging van die “Sonkoning” het Frankryk (en ander lande in Europa) se musiekbedryf geskitter.
Komponiste uit dié tyd sluit in die Duitse Dietrich Buxtehude (1637-1707), die Engelse John Blow (1649-1708), die Italiaanse Arcangelo Corelli (1653-1713), die Duitse Johann Pachelbel (1653-1706) en die Franse Marin Marais (1656-1728) oor wie die Franse regisseur Alain Corneau in 1991 die knap fliek Tous les matins du monde gemaak het. Gérard Depardieu vertolk die rol van die bejaarde Marin.
Kyk hier na die lokprent http://www.tcm.com/mediaroom/video/183654/Tous-les-Matins-du-Monde-Original-Trailer-.html
JEAN-BAPTISTE LULLY
In 1653 is die Italianer Giovanni Battista Lulli (1632-1687) opgeneem in Louis XIV se strykorkes en dis daar waar hy in 1661 sy roemryke loopbaan as komponis sou begin as Jean-Baptiste Lully.
Sy samewerking met die Franse dramaturg Molière het Lully se belangstelling in die teater geprikkel en hy het besef dit is musiek vir die verhoog wat hom interesseer. As medestigter van die Opéra de Paris het Lully talle werke, waarna hy verwys het as “tragédie lyrique” geskep. Dis benewens kamermusiek, ouvertures, danse en balette.
Terwyl hy besig was om ’n Te Deum vir die koning te dirigeer het hy sy voet met ’n dirigeerstaf raakgestamp. Infeksie het ingetree en later gangreen. Hy is dood op 55-jarige ouderdom.
Jean-Baptiste Lully
HENRY PURCELL
Hoewel 1689 aangegee word as die jaar waarin Henry Purcell (1659-1695) Dido and Aeneas geskryf het, is daar aanduidings dat dié opera vroeër opgevoer is. Dis eintlik meer van ’n kort kameropera, maar word nietemin gereken as die eerste Engelse opera. Die verhaal is geskoei op Vergilius se verhaal van Aeneas (Odysseus) se besoek aan Dido van Kartage.
Dido se laaste aria, “When I am laid in earth”, is sekerlik die bekendste deel van dié werk en daar bestaan talle opnames deur die wêreld se voorste vertolkers, deur mezzosoprane soos Janet Baker, Victoria de los Ángeles, Tatiana Troyanos, Teresa Berganza, Anne Sofie von Otter en Susan Graham. Voeg daarby soprano soos Emma Kirkby, Jessye Norman, Catherine Bott, Lynne Dawson en Evelyn Tubb.
Luister op www.vrouekeur.co.za na ’n opname met Janet Baker. Sy word bygestaan deur die St. Anthony Singers. Die English Chamber Orchestra word gedirigeer deur Anthony Lewis.
Daar is ook die opname met Jessye Norman in die rol van Dido. Die English Chamber Orchestra word gedirigeer deur Raymond Leppard.
Op die kruin van sy loopbaan het hy in 1694 musiek gekomponeer vir die begrafnis van koningin Mary II. ’n Jaar later is dié musiek op sy begrafnis gespeel. Hy was 36. Purcell is begrawe neffens die orrel in Westminster-abbey, die plek waar hy sy loopbaan as orrelis in 1679 begin het.
OPNAMES OP CD
Dido and Aeneas, Henry Purcell met Tatiana Troyanos, Felicity Palmer, Richard Stilwell saam met die English Chamber Orchestra en die English Chamber Choir onder leiding van Raymond Leppard. Erato STU 71091 (1977).
Dido and Aeneas, Henry Purcell met Susan Graham, Ian Bostridge, Camilla Tilling, Felicity Palmer, David Daniels saam met Le Concert d-Astrée onder leiding van Emmanuelle Haïm. Erato (versprei deur Virgin Classics)