In die musiekgeskiedenis is die tyd van 1680 tot 1750 alom bekend as die Laat-Barok-periode. Die eerste deel van dié periode is nog deur die Italianers oorheers, maar teen die middel van die 18de eeu het die fokus na die Duitsland van Bach en Handel verskuif.
Johan Myburg
In hierdie eerste aflewering oor die Laat-Barok kom die Italiaanse invloed ter sprake, met name dié van Venesië.
Hoewel Venesië se politieke mag teen die begin van die 18de eeu aan’t taan was en ’n ekonomiese krisis gedreig het, het die stad haarself as trekpleister vir plesier en oordaad aangebied en het die kunste gedy. Toerisme het die stad se nuwe bron van inkomste geword en reisigers is gelok met gemaskerde karnavalle en uitspattige prosessies op die stad se kanale.
Besoekers het gekom van Londen, Parys, Spanje, Nederland en Duitsland. Op dié manier is groot dele van Eurpoa blootgestel aan Venesië se interpretasie van die musiek van die Laat-Barok.
Tussen 1700 en 1750 is tien nuwe operas jaarliks in Venesië aangebied en het die stad op enige gegewe oomblik nooit minder nie as ses operageselskappe gehad. Aanbiedings is deur welvarende individue geborg, of deur godsdienstige genootskappe – die sogenaamde scuole – en kunsteakademies.
Buite Venesië het opera in die hande van Alessandro Scarlatti (1660-1725) en Giovanni Bononcini (1670-1747) ’n trefkrag en reikwydte gekry wat ’n nuwe geslag sanger-akteurs tot gevolg gehad het – onder meer castrati soos Nicolini (Nicolo Grimaldi) (1673-1732), Senesino (Francesco Bernardi) (1686-1758) en Farinelli (Carlo Broschi) (1705-1782). (’n Castrato is ’n manstemkwaliteit gelykstaande aan dié van ’n sopraan, mezzosopraan of kontralto. Dié kwaliteit is berwerkstellig deur kastrasie voor puberteit.) Deesdae word dié rolle vertolk deur kontratenore.
Veral in Rome moes castrati vrouerolle in operas vertolk omdat die pous vroue nie op die verhoog toegelaat het nie.
Maar benewens opera het musiekvorms soos die concerto en sonate deelgeword van die aanbod. Die viool was ’n besondere gunsteling by Venesiese komponiste.
Ná Arcangelo Corelli (1653-1713) se concerti grossi het die lewendiger drie-bewegings-concerti (vinnig, stadig, vinnig) van die jonger Venesiese komponis en viool-virtuoos Antonio Vivaldi (1678-1741) in gewildheid toegeneem. Afgesien van ’n aansienlike hoeveelheid operas het Vivaldi ook gesorg vir 350 concerti en 90 solo- en trio-sonates, asook talle kantates, motette en oratoriums.
Aanvanklik is instrumentale werke uitgevoer in kerke as deel van die diens of tydens ’n private uitvoering aan huis van ’n welgestelde beskermheer. Mettertyd het openbare uitvoerings al gewilder geword.
Volgens die Britse biograaf en amateurmusikus Roger North (1651-1734) was die solokonsert die gewildste musiekvorm teen die einde van die 17de eeu, en die gewildste komponis was Vivaldi.
Hoewel die viool en dalk die trompet oorheers het as solo-instrumente het werke vir die tjello, hobo, fluit en fagot vinnige in gewildheid gegroei.
Kyk hier na Alison Balsom wat die Presto (derde beweging) uit die Vioolkonsert van Vivaldi speel. Sy tree op saam met die Skotse Ensemble.
Balsom (38) is ’n Engelse trompetspeler. Die gesaghebbende Gramophone het haar in 2013 aangewys as die kunstenaar van die jaar.
Dis dié solo-konserte waarmee die grondslag gelê is vir die latere concerti van die Klassieke era. Eweso was het die sinfonias met hul homofoniese struktuur die voorbereiding geword vir die Klassieke simfonieë van Haydn en Mozart.
In die 20ste eeu het komponiste soos Ralph Vaughn Williams, Igor Strawinski en Benjamin Britten in hul werk hulde gebring aan die Barok.
In die laaste 50 jaar het Barok-musiek besonder gewild geraak. As deel van dié hernieude belangstelling is kenners besig met navorsing om te bepaal presies hoe die musiek vir gehore van die 17de en 18de eeu geklink het. Verskeie opnames met periode-instrumente is intussen al uitgereik.
Kyk hier na Vivaldi se Vioolkonsert in E, op. 8 no. 1 (Lente) uitgevoer deur Il Giardino Armonico onder leiding van Giovanni Antonini. Die solis is Enrico Onofri. Die konsert is saam met die ander drie op. 8-konserte bekend as Le quattro stagioni (Die vier seisoene).
Kyk hier na die kontratenoor Philippe Jaroussky se weergawe van die Vivaldi-kantate “Pianti, sospiri e dimandar mercede”. Hy tree hier op saam met Ensemble Artaserse.
Jaroussky (38), ’n Franse kontratenoor, is bekend vir sy virtuose koloratuurtegniek en sy deurleefde interpretasies van Barok-kantates en -operas.