Kry ’n smakie van die Laat-Barok-periode
Johan Myburg
In die musiekgeskiedenis is die tyd van 1680 tot 1750 alom bekend as die Laat-Barok-periode. Die eerste deel van dié periode is nog deur die Italianers oorheers, maar teen die middel van die 18de eeu het die fokus na die Duitsland van Bach en Handel verskuif.
In hierdie eerste aflewering oor die Laat-Barok kom die Italiaanse invloed ter sprake, met name dié van Venesië. Hoewel Venesië se politieke mag teen die begin van die 18de eeu aan’t taan was en ’n ekonomiese krisis gedreig het, het die stad haarself as trekpleister vir plesier en oordaad aangebied en het die kunste gedy. Toerisme het die stad se nuwe bron van inkomste geword en reisigers is gelok met gemaskerde karnavalle en uitspattige prosessies op die stad se kanale.
Kyk hier na Alison Balsom wat die Presto (derde beweging) uit die Vioolkonsert van Vivaldi speel. Sy tree op saam met die Skotse Ensemble. Balsom (38) is ’n Engelse trompetspeler. Die gesaghebbende Gramophone het haar in 2013 aangewys as die kunstenaar van die jaar.
Kyk hier na Vivaldi se Vioolkonsert in E, op. 8 no. 1 (Lente) uitgevoer deur Il Giardino Armonico onder leiding van Giovanni Antonini. Die solis is Enrico Onofri. Die konsert is saam met die ander drie op. 8-konserte bekend as Le quattro stagioni (Die vier seisoene).
Kyk hier na die kontratenoor Philippe Jaroussky se weergawe van die Vivaldi-kantate “Pianti, sospiri e dimandar mercede”. Hy tree hier op saam met Ensemble Artaserse.
Jaroussky (38), ’n Franse kontratenoor, is bekend vir sy virtuose koloratuurtegniek en sy deurleefde interpretasies van Barok-kantates en -operas.