Barok het in die 19de eeu sy negatiewe konnotasie ontgroei en beskrywend geword van ’n flambojante, dekoratiewe benadering tot kuns: in argitektuur, skilderkuns en musiek
Johan Myburg
In 1733 is Jean-Philippe Rameau (1683-1764) se Hyppolyte et Aricie deur ’n anonieme kritikus as “barocque” beskryf.
Dié woord, afgelei van die Portugese “barroco”, is in die pêrelhandel gebruik om ’n misvormde pêrel mee te beskryf. Die bedoeling was om dié Rameau-werk te tipeer as raserig, onmelodieus, met uitspattige modulasies, repetisies en veranderings in tempo.
Minder as 20 jaar later het ene Charles de Brosses, skrywer en lid van die Dijonse akademie vir wetenskap, kuns en letterkunde, die fasade van die Pamphili-paleis in Rome beskryf as “baroque”.
Detail van die fasade van die Pamphili-paleis in Rome.
Vir hom was dié fasade met sy filigraanwerk nader aan tafelgerei as aan argitektuur.
Nietemin het “barok” bly steek en in die 19de eeu het die begrip sy negatiewe konnotasie ontgroei en beskrywend geword van ’n flambojante, dekoratiewe benadering tot kuns: in argitektuur, skilderkuns en musiek.
In die 20ste eeu het Barok aanduiding geword van die tydperk van die laat 16de eeu tot die helfte van die 18de eeu.
Dié tydperk word onderverdeel in vroeë-Barok (1580–1630), middel-Barok (1630–1680) en laat-Barok (1680–1750).
Vroeë-Barok
Met die aanbreek van die Renaissance het die musikant as individu al meer prominent geraak. En meer as die spektakel of die drama van die opera het die aria ’n spesiale plek begin inneem. Dit was die opkoms van die virtuoos en impresarios het met mekaar meegeding om veral prima donnas te lok teen die hoogste prys.
Dis bekend dat sangers soos Signora Girolama en Giulia Masotti per speelvak tot ses keer soveel verdien het as wat die Italiaanse komponis Francesco Cavalli (1602-1676) gekry het vir die skryf van die opera. En Cavalli was die besbetaalde komponis van sy tyd.
Francesco Cavalli
Dit was die opkoms van bel canto (letterlik “mooi sing”), ’n mooi dog uitdagende sangstyl wat besondere stemmanipulasie verg. Die prima donna moes haar kollig in dié tyd deel met die castrato as held van die vroeë opera. Die castrati was mans met natuurlike sangstemme gelykstaande aan dié van ’n sopraan, mezzosopraan of kontralto. Dié stemkwaliteit is bereik deur kastrasie van die sanger voordat hy puberteit bereik. Dié praktyk het in onbruik geval en vroue sing deesdae dié rolle.
Barbara Strozzi
Teen die middel van die 17de eeu was sy bekend as die ywerigste komponis in Venesië, met die meeste sekulêre musiek vir die stem in druk agter haar naam. Vandag weet ’n mens kwalik van Barbara Strozzi (c.1619-1677), gebore Valli, die kind van ’n bediende wat grootgemaak is deur Giulio Strozzi, ’n vooraanstaande Venesiese skrywer – na alle waarskynlikheid haar pa.
Strozzi het die komponis Francesco Cavalli as leermeester gehad. In 1644 het sy ’n stel madrigale, geskoei op gedigte van haar pa, gepubliseer. Maar dit was ná 1652, die jaar waarin haar pa dood is, dat Strozzi flinker begin publiseer het. Daar is kenners wat meen sy moes dit om den brode doen aangesien haar pa bitter min vir haar nagelaat het.
Sy het heelwat werke as “aria”, “arietta” of as “cantata”, genres eie aan die tyd, gepubliseer.
Daar is min oor haar lewe bekend. Sy is nooit getroud nie, het vier kinders gehad en is in 1677 in Padua dood.
Luister na die Italiaanse sopraan Roberta Invernizzi in ’n opname van Strozzi se kantate Sino alla morte.
Luister na die Spaanse sopraan Raquel Andueza in dié opname van Barbara Strozzi se L’amante segreto.