In Junie het Goitsemang Lehobye opgetree op die 2015 Hermanus FynArts-kunstefees in ’n program met Italiaanse musiek, arias en duette uit La traviata en ander gunstelinge
Johan Myburg
Later vanjaar is sy saam met die Kaapstad Filharmonie op die verhoog in die première van Bongani Ndodana Breen se “Drie liedere vir sopraan en orkes op gedigte van Ingrid Jonker”.
In ’n besonder kort loopbaan het dié sopraan heelwat vermag en besondere prestasies behaal. Sy is sedert 2011 ’n student aan die Suid-Afrikaanse Musiekkollege aan die Universiteit van Kaapstad waar sy onderrig van Hanna van Niekerk ontvang.
Goitsemang Lehobye is in Ga-Rankuwa noordwes van Pretoria gebore. Haar eerste kennismaking met opera, sê sy, was toe sy ’n program op televisie gesien het met die Pretoriase Black Tie Ensemble. Sy het onmiddellik by haar skool se koor aangesluit.
In haar finale skooljaar het sy as lid van ’n kwartet die ensemble-kategorie in die Tirisano-kompetisie vir hoërskoolleerlinge gewen. Hoewel sy nie ’n beurs gewen het in dié kompetisie nie, is haar sangtalent opgemerk en is sy genooi om deel te word van die Black Tie Ensemble se broeikasprojek, ’n opleidingsafdeling waarin jong sangers opgeneem is om opleiding in die operakuns te ontvang.
Die Black Tie Ensemble is in 1999 in die lewe geroep deur Neels Hansen, voormalige hoof van die Staatsteater-Opera, en die sopraan Mimi Coertse. Die Black Tie Ensemble is mettertyd ontwikkel as ’n vaste werkgewer vir talle sangers. Dié groep het in 2012 die BTE VO1SS geword.
Onder leiding van prof. Eric Muller het Lehobye vir ses jaar sangonderrig ontvang.
Sy is lof toegeswaai vir haar rol van Adalgisa in die Black Tie Ensemble se vinjet-weergawe van Bellini se Norma in 2010.
Dit was prof. Kamal Kahn wat haar aangemoedig het om opera aan die Universiteit van Kaapstad te gaan studeer.
In 2012 het sy deelgeneem aan galakonsert van die sesde Kaapstadse internasionale somer-musiekfees. In dié konsert met die Amerikaanse tenoor Neil Shicoff en die Russiese mezzosopraan Olesya Petrova het sy en die Suid-Afrikaanse baritone Colin Schachat opgetree.
Die volgende jaar is sy saam met die liriese tenoor Levy Sekgapane aangewys as wenners van die 2013 Mimi Coertse-sangkompetisie. Coertse het onder meer gemeen Lehobye “was op ’n buitengewoon hoë peil” en dat sy haar “volledig ingeleef het in die arias wat sy voorgedra het”.
Dieselfde jaar het sy die prys van die Schock-stigting gewen. Dié kompstiese is oop vir heeltydse student aan die Suid-Afrikaanse Musiekkollege in hul tweede of derde studiejaar.
Vroeër vanjaar is sy ook gehoor in die rol van Violetta in Verdi se La traviata in die Kunstekaap-operahuis saam met die Simfonieorkes van die Universiteit van Kaapstad. Kamal Khan was die dirigent en Angelo Gobbato die regisseur.
Bespreek nou
Op 22 Oktober is Lehobye saam met die Kaapstadse Filharmonie in die Stadsaal in die Moederstad in die eerste konsert van dié orkes se lenteseisoen in ’n uitvoering van Ndodana Breen se Jonker-liedere. Die dirigent is Perry So, mede-dirigent van die Los Angelos Philharmonic.
Die ander solis in dié konsert is Pallavi Mahidhara. Sy speel die die Klavierkonsert in c, no. 2 op. 18 van Rachmaninoff. Die hoofwerk is die Simfonie in c-kruis, no. 7 op. 131.
Kaartjies kos van R90 tot R230 by Computicket.
VIDEO
Kyk na dié amateur-video van die sopraan Goitsemang Lehobye se weergae van “Un bel dì vedremo” uit Puccini se Madama Butterfly. Die begeleier is Albert Combrink (klavier) en die Stellenbosch Camerata. Die opname is verlede jaar gemaak tydens Opera in a Convent Garden in Kaapstad.
Goitsemang Lehobye en Dikgang Mantoro (bariton) in “Silly, Silly Soldier” uit The Merry Widow van Franz Lehar in ’n produksie van The Black Tie Ensemble.