Antjie Krog is gisteraand (24 Oktober) op die prysaand van die derde Mbokodo-pryse vereer vir haar bydrae tot taal en die kuns van storievertel.
Johan Myburg
Krog, bekend as digter, het die prys ontvang vir die invloed wat haar Country of My Skull (1998) gehad het en nog steeds het. Dié boek oor die werk van die Waarheid-en-versoeningskommissie is in 2004 deur John Boorman verfilm as In My Country.
Krog was een van 19 vroue wat by ‘n geselligheid in Midrand, noord van Johannesburg, vereer is. Die Mbokodo-pryse word jaarliks deur die department kuns en kultuur in samewerking met Carol Bouwer-produksies aangebied om die rol van vroue in die kunstebedryf te beklemtoon.
Een van die aand se grootste eerbewyse, die Miriam Makeba-prys, is toegeken aan die Mahotella Queens. Dié groep maak al sedert 1964 musiek en is wêreldwyd in aansien.
Die volledige lys wenners in die onderskeie kategorieë is:
Inheemse kuns: Lobolile Ximba
Taal en storievertel: Antjie Krog
Kreatiewe skryfwerk: Mmatshilo Matsei
Poësie: Nokuthula Zuma
Kreatiewe fotografie: Marlene Neumann
Visuele kunste: Tracey Rose
Beeldhou: Jane Alexander
Argitektuur: Trudi Groenewald en Deborah Preller van Groenewald & Preller Argitekte
Kreatiewe ontwerp: Lisebo Mokhesi
Modeontwerp: Palesa Mokubung
Dans: Burnise Silvius
Opera: Sibongile Mngoma
Teater: Marlene le Roux
Komedie: Celeste Ntuli
Rolprent: Florence Masebe
Jazz: Lindiwe Maxolo
Musiek: Nhlanhla Nciza
Bevordering van die kunste in die media: Vanessa Perumal
Kunste-ambassadeur: Miriam Tladi
Miriam Makeba-prys: Mahotella Queens
Die beoordelaars was Pitika Ntuli, Shado Twala, Antoinette Ntuli en Lisa Combrinck.