Len Muller se debuutalbum Doodgewone Avontuur is vroeg in 2015 uitgereik en met liedjies soos Smag na jou en Iets om in te glo (kykNEt Afri-visie) het hy dadelik die aandag getrek!
Nou verras Len weer! Dié keer saam met die gewilde Stef Bos. Len het vir een van die bekendste Afrikaanse liedjies, Sarie Marais, ’n nuwe baadjie aangetrek en Stef het ’n vers bygeskryf. Die musiekvideo vir hierdie liedjie is pas bekendgestel en jy kan dit hieronder kyk.
Len vertel: "Van kleins af het ek en my boetie gereeld na Jim Reeves se plate geluister. So het ons die lied Sarie Marais leer ken en gereeld saamgesing. Dit was eers later, toe ek my eie liedjies begin skryf het, dat ek my eie verwerking vir die liedjie wou doen. Die groot rede hiervoor is dat die storie en lirieke van die lied van meer emosie praat as wat die tradisionele melodie kommunikeer. Daarom het ek ook vir Stef Bos gekontak en gevra of hy saam met my aan die lied wou werk. Ek is al lank ’n aanhanger van sy musiek omdat dit soveel emosie dra. Dit was ’n droom wat waar geword het toe hy ingestem het om saam met my te werk en toe sommer ’n pragtige vers vir die lied bygeskryf het."