Die kunstenaar Walter Battiss se lewe het ‘n interessante paadjie geloop.
Johan Myburg
Walter Whall Battiss is op 6 Januarie 1906 in Somerset-Oos, in die Oos-Kaap, gebore. Sy ouers het in 1917 na Koffiefontein in die Vrystaat verhuis, en later na Fauresmith waar hy sy skoolopleiding voltooi het.
In 1924 het hy in die landroskantoor in Rustenburg begin werk en in Augustus 1927 het hy sy eerste solo-uitstalling aangebied in die Masonic Hall op die dorp. Teen die einde van daardie jaar het hy sy eerste formele kunsonderrig aan die Johannesburgse kunsskool gekry.
In 1929 is hy na die hooggeregshof in Johannesburg verplaas en het hy kunsklas begin neem aan die kunsskool van die Witwatersrand- tegniese kollege.
Nadat hy sy onderwysdiploma behaal het, het hy in 1933 begin skoolhou by die Park School in Turffontein, Johannesburg.
In 1936 het sy belangstelling in rotskuns in alle erns begin – die jaar waarin hy na Pretoria Boys High verplaas is as kunsonderwyser.
In 1940 is hy getroud met Grace Anderson en die twee het ingetrek in hul woning, Giotto’s Hill, in Menlo Park, Pretoria. Battiss het daar gewoon tot en met sy dood.
In 1944 het hy kopieë van sy rotskuns in Johannesburg vertoon en in 1950 is sy werk vertoon op die Venesiese Biënnale.
In 1959 is hy aangestel as kunsprofessor aan die Rhodes-Universiteit in Grahamstad. Hy het die volgende jaar egter teruggekeer na Pretoria Boys High. In 1964 is hy aangestel as professor aan Unisa. Sy oorsese reise het toegeneem ná sy aftrede in 1971.
In 1981 is die Walter Battiss-galery in Somerset-Oos, geopen. Hy is op 20 Augustus 1982 in Port Shepstone dood waar hy vakansie gehou het.
•
Walter Battiss: Gentle Anarchist is in 2005 uitgegee deur Standard Bank ten tye van ‘n oorsiguitstalling in die Standard Bank-galery in Johannesburg.