Vir A Place in Time, die uitstalling van beeldhouwerke wat in Mei op die Nirox-landgoed in die Wieg van die Mensdom aangebied is, is die werk van 37 kunstenaars – van Suid-Afrika én die buiteland – byeengebring.
Johan Myburg
Op verskillende maniere het elkeen van die kunstenaars gereageer op die Wieg – ten opsigte van geologie, geskiedenis of die belang van die omgewing vir die mensdom.
Helen Pheby, senior kurator van die Yorkshire Sculpture Park suid van Leeds in Brittanje, was die kurator van die uitstalling, ‘n taak wat sy aangepak het met die steun van die Johannesburgse kurator Mary-Jane Darroll.
Pheby se oogmerk was kontemporêre kunswerke wat tred hou met die tyd, die plek en al die skeppers van weleer. Om laasgenoemde te benadruk is ‘n keur van artefakte in Wits se Origins Centre en dié universiteit se departement argeologie ook tydens die uitstalling vertoon.
Van die Britse kunstenaar Richard Long is Humankind Ring, gemaak van bruin en wit klip uit die Wieg-omgewing en met ‘n deursnit van 5 m, ingesluit. Sedert Long sy eerste klipsirkel in 1972 in die Andes gemaak het, is dié vorm eie aan sy visuele uitdrukking – van verwysings na die sikliese aard van alle bestaan tot die geringste aanduiding van beweging.
Ook in ‘n sirkel is die Sun Boat, gemaak van sowat 500 bloekompale en tou, van die Egiptiese kunstenaar Moataz Nasr. Anders as Long se kleinerige sirkel is Nasr se werk kolossaal: met ‘n omtrek van 75,4 m en ‘n totale gewig van 45 ton. Dié werk verwys na die skuinsstaande spane van die sonskip wat glo vir Khufu, die tweede farao van die Vierde Dinastie, gebou is. Dié skip wat om en by 2500 v.C. is aan die voet van die Groot Piramide van Giza begrawe is, is in 1954 ontdek.
Volgens Pheby het Nasr vir dié werk ook geput uit hout wat as boumateriaal gepak is in die Zoeloe-hartland van KwaZulu-Natal.
Van die mees evokatiewe werke deur ‘n buitelandse kunstenaar in A Place in Time is ongetwyfeld dié van die Argentynse kunstenaar Lorena Guillén-Vaschetti, wat, soos Nasr, tydens ‘n kunstenaarsverblyf van twee maande by Nirox vertoef het. Haar twee werke heet Bird en Casa.
In ‘n populierbos op die landgoed het Guillén-Vaschetti haar Casa, ‘n hut van Oregon-den (333 x 500 x 400 cm) opgerig. Hoewel sy soortgelyke weergawes van Casa in Argentinië, Japan en die VSA in galerye vertoon het, kan ‘n mens nie anders nie as om te voel dat dié huisie sonder enige deur of venster eintlik tot sy reg kom in dié Nirox-bos. Met behulp van gloeilampe aan die binnekant gloei die huisie snags deur sy nate en gate in die planke – ‘n geborge gevoel as korrektief op die prentjies wat ‘n mens in jou kop het van die heks se huis in “Hansie en Grietjie”.
Die wins van die insluiting van buitelandse kunstenaars – daar was ook nog werk van Caroline Bittermann van Duitsland, Sean Blem van Switserland, Anton Burdakov van die Oekraïne, Rebecca Chesney van Brittanje, Priyanka Choudhary van Indië, Victor Ehikahamanor van Nigerië, Jem Finer van Brittanje, Osaretin Ighile van Nigerië, Michele Mathison van Zimbabwe, Clara Montoya van Spanje en Thomas J Price van Brittanje – is enersyds dat Suid-Afrikaners blootstelling kry aan kontemporêre beeldhou uit die buiteland. Andersyds het ‘n mens onder die indruk gekom van die hoë gehalte, konseptueel sowel as in uitvoering, van die werk van die Suid-Afrikaanse kunstenaars.
Die volledige lys kunstenaars wat deelgeneem het aan die uitstalling A Place in Time, is:
- Beth Diane Armstrong (Suid-Afrika)
- Caroline Bittermann (Duitsland)
- Sean Blem (Switserland)
- Willem Boshoff (Suid-Afrika)
- Joni Brenner (Suid-Afrika)
- Jenna Burchell (Suid-Afrika)
- Anton Burdakov (Brittanje/Oekraïne)
- Mat Chivers (Brittanje)
- Marco Cianfanelli (Suid-Afrika)
- Rebecca Chesney (Brittanje)
- Priyanka Choudhary (Indië)
- Hannelie Coetzee (Suid-Afrika)
- Ruann Coleman (Suid-Afrika)
- Victor Ehikahamanor (Nigerië)
- Jem Finer (Brittanje)
- Richard Johan Forbes (Suid-Afrika)
- Raimi Gbadmosi (Suid-Afrika)
- Haroon Gunn-Salie (Suid-Afrika)
- Osaretin Ighile (Nigerië)
- Richard Long (Brittanje)
- Michele Mathison (Zimbabwe)
- Nandipha Mntambo (Suid-Afrika)
- Mohau Modisakeng (Suid-Afrika)
- Clara Montoya (Spanje)
- Moataz Nasr (Egipte)
- Serge Alain Nitigeka (Suid-Afrika/Burundi)
- Lwandiso Njara (Suid-Afrika)
- Thomas J Price (Brittanje)
- Mary Sibande (Suid-Afrika)
- Mikhael Subotzky (Suid-Afrika)
- Angus Taylor (Suid-Afrika)
- Johan Thom (Suid-Afrika)
- Lorena Guilléen-Vaschetti (Argentinië)
- James Webb (Suid-Afrika)
- Berco Wilsenach (Suid-Afrika)
Lorena Guillén-Vaschetti se Casa, herwinde hout en gloeilampe.
Lorena Guillén-Vaschetti se Bird, gevonde voorwerp.
Detail van Lorena Guillén-Vaschetti se Bird, gevonde voorwerp.
Lorena Guillén-Vaschetti se Casa, herwinde hout en gloeilampe, in die aand.
Richard Long se Humankind Ring, bruin en wit klippe uit die Wieg van die Mensdom.
Berco Wilsenach se Cloud Container, ‘n installasie met sewe glaspanele.
Moataz Nasr se Sun Boat, gemaak van bloekompale en tou.