In die 1860’s het Whistler die wesenseienskappe van die Japanse drukkuns in sy werk begin insluit
Johan Myburg
Die VSA se handelsverdrag met Japan in 1854 het dié land en sy kultuur vir die Weste ontsluit en die Japanse invloed het begin sigbaar word in die kuns van onder andere die Amerikaanse kunstenaars John La Farge (1835-1910) en James Abbott McNeill Whistler (1834-1903).
Aanvanklik was dit Japanse motiewe wat deurgeslaan het in hulle werk, maar in die 1860’s het Whistler, wat toe in Londen gewoon het, die wesenseienskappe van die Japanse drukkuns in sy werk begin insluit.
Whistler se Nocturne in Blue and Silver, 1870 (40 x 74 cm), in olie op doek, is in dieselfde tyd as Monet se Impression : soleil levant geskilder en die Japanse invloed, bekend as Japonisme, blyk duidelik.
Dié skildery is al beskryf as ’n vertaling van die Japanse kuns na ’n Westerse idioom. Die Japanse drukkuns het vir die Impressioniste ’n oplossing gebied in hulle strewe om ’n driedimensionele illusie te skep op ’n plat skilderdoek. Vergelyk die silwerige watermassa en die ‘abstrakte’ rangskikking van enkele elemente.
Let eweneens op die invloed wat die Japanse drukkuns gehad het op Manet in sy hantering van die naakfiguur in sy Olympia, 1863 (130 x 190 cm). Manet gebruik donker buitelyne vir die figuur en daar is kwalik enige modellering aan die lyf – soos dit blyk uit die Japanse naakfiguur.
Maar die invloed van Japonisme was ook inhoudelik. Kyk maar na Manet se portret van die skrywer Émile Zola, geskilder in 1968. Agter Zola is benewens Manet se Olympia ook ’n drukwerk van Utagawa Kuniaki II, dié van ’n tradisionele stoeier.
Agter Zola is ’n Japanse skerm. ’n Mens kan dit gewoon lees as ’n kopknik in die rigting van die invloed wat Japan gehad het op die gebruik van perspektief en kleur in die Europese skilderkuns.