Van die Russiese skilder Wassily Kandinsky (1866-1944) se tien Komposisies, geskilder tussen 1913 en 1939, het net die laaste sewe behoue gebly. Die eerste drie is gekonfiskeer toe die Nazi’s in die vroeë 1930’s die Bauhaus, waar hy klas gegee het, gesluit het.
Dié drie skilderye is eers vertoon in die Nazi’s se 1937-uitstalling van sowat 650 moderne kunswerke in München, bekend as “Entartete Kuns” (letterlik: kuns wat ontaard het), en is daarna vernietig saam met die werk van onder andere Paul Klee en Franz Marc. Die bedoeling met die uitstalling was om ? bespotting te maak van dié “verworde kuns” wat die Nazi’s afgekeur het.
Van dié drie Kandinsky’s bestaan daar slegs voorsketse, tekeninge en enkele foto’s.
Vir die Nazi’s was abstrakte kuns taboe omdat dit nie met hulle ideologie gestrook het nie. Volgens die Nazi’s moes kuns getrou wees aan die natuur.
Kandinsky se Komposisie VII, ? werk wat in 1913 geskilder is, is meer as ? honderd jaar later vir baie mense steeds té abstrak, té onverstaanbaar.
Maar abstraksie het nie uit die lug geval nie. Dink maar aan die Post-Impressioniste Paul Gauguin en Vincent van Gogh wat meer klem geplaas op die emosionele of spirituele ervaring van die onderwerpe wat hulle geskilder het. Neem in ag die siening van die Romantiek dat kleur meer uitdrukking gee as blote beskrywing, en dat dit uitgebrei is na lyn en vormgewing. Nietemin was die Post-Impressioniste se vormgewing (nog) taamlik figuratief en na aan die natuur.
Hou in gedagte die emosionele konnotasies wat die Fauviste aan kleur gekoppel het en die beklemtoning van die skilderdoek as ? plat vlak van die Kubiste, en ? mens besef abstraksie was die volgende logiese ontwikkeling in die skilderkuns.
Met dié tradisie agter hom en binne die geesteswêreld van Der Blaue Reiter was abstraksie die manier waarop Kandinsky wou uitdrukking gee aan sy ervarings. Om die natuur na te skilder sou volgens hom dié ervarings belemmer.
Musiek as die abstrakte kunsvorm, as die een wat nie uitdrukking gee aan ? uiterlike wêreld nie, maar wat gevoelens uitdruk en indrukke gee, was vir Kandinsky die parallel van wat hy op visuele vlak wou doen. Vergelyk byvoorbeeld die titels van sy skilderye wat na musiek verwys: Komposisie, Improvisasie en die reeks houtdrukke Klänge (klanke).
Wassily Kandinsky
[iframe width=”350″ height=”197″ src=”https://www.youtube.com/embed/WdPMdGUeYGk?rel=0″ frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Kyk na ? video oor Kandinsky se boek met houtdrukke, Klänge 1913.
? Skildery soos Komposisie VII, ? werk wat algemeen gereken word as een van Kandinsky se bestes uit die tyd voor die Eerste Wêreldoorlog, dien as illustrasie van sy siening dat ? skildery klank kan oproep soos wat musiek dit kan doen met kleur en vorm.
In 1911 het hy in Wirkung der Farbe (die effek van kleur) geskryf: “Kleur is die klawerbord, die oë is die hamers, die siel is die klavier met baie snare. Die kunstenaar is die hand wat speel, wat die een klawer na die ander doelbewus aanraak om die siel te laat vibreer.”
In plaas daarvan om tradisionele maniere te gebruik om diepte te bewerkstelling, vleg hy met kleur en spiraalvorms; in plaas daarvan om herkenbare voorwerpe te skilder, orkestreer hy met kleur.
? Kunswerk wat nie in emosie begin nie, het Cézanne gesê, is nie kuns nie. Miskien wou Kandinsky hê dat die hele werk in emosie, in gevoel, in ervaring gebaai moet wees.
Moet ? mens dus Kandinsky se abstrakte werk “verstaan” om dit te kan waardeer, of moet jy eerder “luister” daarna? Om te probeer hoor wat die oog sien?
Miskien verg abstraksie minder van ? soeke na herkenning van vorms en meer ? ervaring van wat ons sien. Of hoor.
In 2009/10 het die Guggenheim-museum in New York ? groot hoeveelheid van Kandinsky se werk byeengebring. In dié kort video praat Gillian McMillan, mede-hoofkurator van dié museum se versameling, oor restourasie van dié skilderye en inligting wat deur navorsing op dié werk na vore gekom het.
In dié video word skilderye van Kandinsky gewys aan die hand van klaviermusiek van Schönberg.
[iframe width=”350″ height=”263″ src=”https://www.youtube.com/embed/daVaEoF5Hrk?rel=0″ frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Parallel met Kandinsky se eerste suiwer abstrakte werke het atonaliteit in musiek na vore getree. In 1909 het die Oostenrykse komponis Arnold Schönberg sy “Drie klavierstukke” gekomponeer. Dié twee kunstenaars het mekaar geken en mekaar se werk oor en weer beïnvloed.
Soos wat simfonieë bakens is in die loopbaan van ? komponis, het Kandinsky sy Komposisies as voertuie vir sy gedagtes oor kuns gesien. Soos ? goue draad loop die tien Komposisies deur Kandinsky se oeuvre.
Met sy belangstelling in spiritualiteit – hy het in 1912 ? boek geskryf oor die spirituele aspekte in kuns en die kunstenaar as profeet gesien – het hy teruggeval op die Bybelse verhale waarmee hy grootgeword het. Dié van Noag se ark, Jona en die vis, die vier ruiters van Openbaring, maar ook Russiese verhale het in Kandinsky se abstraksies simbole geword vir dood en hergeboorte, vir verwoesting en skepping, soos hy dit ervaar het in die jare tussen die twee Wêreldoorloë.
Die skilderye kort voor die Tweede Wêreldoorlog dui onmiskenbaar op ? kataklisme wat die gang van die geskiedenis sou verander.