Op 23 Mei het Vladimir Tretchikoff se Sunflowers, ‘n skildery van 1959, opslae gemaak op ‘n veiling van die afslaer Strauss & Kie. toe dit vir meer as dubbel die geraamde maksimum verkoop het. Maar dié skildery het ook ‘n storie van sy eie
JOHAN MYBURG
Teen 1959 was Tretchikoff (1913-2006) die Russies (die huidige Kazakstan) gebore kunstenaar wat sedert 1946 in Kaapstad gewoon het, op die kruin van sy loopbaan. In die 1950’s, sy sogenaamde goue dekade, het hy die reeks Chinese vroue, onder meer Chinese Girl, Dying Swan en Lost Orchid geverf.
Sy roem, meegebring deur die duisende foto-afdrukke van sy werk wat hy self die wêreld ingestuur het, wat nie net beperk tot Suid-Afrika nie. In 1952/53 het hy die VSA en Kanada besoek. Sy uitstalling in Los Angeles het 57 000 besoekers gelok en in San Francisco 52 000. In Seatlle was sy uitstalling gewilder as dié van Picasso en Rothko wat terselfdertyd daar vertoon is.
Volgens Boris Gorelik, skrywer van Incredible Tretchikoff (2013), het sy afdrukke in die 50’s Tretchikoff “die huidige ekwivalent van £3 000 per dag” in die sak gebring. Londen se Evening News het in 1959 opgemerk Tretchikoff “het moontlik meer gedoen as enige ander lewende skilder om die publiek te oortuig om vir die eerste keer in hul lewe ‘n prent te koop en dit in hul sitkamer te hang”.
Nietemin was Tretchikoff se skilderye in olie nie minder gesog nie. In 1959 het hy ‘n versameling werk, bestaande uit portrette, stillewes en dierestudies op verskeie plekke in die land vertoon – eers in Kaapstad en daarna ook in Durban.
Dis was in Durban waar ‘n mnr. en mev. Richard Bunn van Pietermaritzburg Sunflowers vir 500 ghienies (destyds omtrent £525) gekoop het. Dis dié skildery wat op 23 Mei opgeveil is vir R1,5 miljoen. Strauss en Kie. se kataloguspryse was tussen R400 000 en R600 000.
Volgens die katalogus sou Tretchikoff aan Bunn gesê het: “Moenie dit nou verkoop nie. Wag eers tot ek dood is.”
Die skildery het kort voor die Mei-veiling te voorskyn gekom tydens ‘n waardasie wat die afslaer in Pietermaritzburg aangebied het. Die eienaar van die werk, ‘n aangetroude familielid van die oorspronklike eienaar, het benewens die skildery ook knipsels en korrespondensie tussen Bunn en Tretchikoff na die waardasie gebring.
Uit The Natal Mercury van 26 September 1959 blyk dat meer as 21 000 mense die Durban-uitstalling in Payne se afdelingswinkel gesien het.
Die Bunns het ‘n teekamer in Durban Road bedryf en ‘n taamlike versameling kontemporêre Suid-Afrikaans in die teekamer vertoon, onder meer werk van Walter Battiss. Strauss & Kie. se katalogus meld dat Bunn kort tevore geld wat hy op perde verwed het gewen het en dat hy Sunflowers daarmee aangeskaf het.
Hoewel Tretchikoff se kuns van hom ‘n ryk man gemaak het, het sy sy lewe lank nie die erkenning gekry wat hy geglo het hy verdien nie. Die feit dat Esmé Berman Tretchikoff nie eens in haar seminale Art and Artists of South Africa (1970) noem nie, was ’n bitter pil om te sluk vir Tretchikoff – en dalk steeds vir sy aanhangers.
Maar duidelik is die gety besig om te draai.
Chinese Girl wat in 1950 geskilder is hou die rekord as die Tretchikoff wat die meeste op ‘n veiling behaal het – sowat R13,8 miljoen op ‘n veiling van Bonhams in Londen in 2013. Die skildery is gekoop deur die Britse sakeman Laurence Graff, voorsitter van Graff Diamonds International en eienaar van die Delaire Graff-landgoed buite Stellenbosch. Dié skildery word tans op die landgoed vertoon.
Die voorblad van Boris Gorelik se Incredible Tretchikoff, die boek wat in 2013 verskyn het by Tafelberg