Vincent van Gogh is vanjaar 125 jaar gelede op 29 Julie 1890 in Auvers in Frankryk dood. Hy was 37.
Johan Myburg
Soms is dit moeilik om te onderskei tussen die openbare belangstelling in sy werk en dié in sy moeilike lewe – en veral sy dood.
Dit word allerweë aanvaar dat hy homself in ‘n koringland net buite Auvers geskiet het.
Dié opvatting het die waarheid geword toe Irving Stone se Lust for Life in 1934 verskyn het. En dit het evangelie geword toe Kirk Douglas die hoofrol vertolk het in Vincente Minnelli se verfilming van die boek in 1956.
Dis één weergawe, het twee skrywers, Steven Naifeh en Gregory White Smith, in 2011 aangevoer met die publikasie van hulle biografie Vincent van Gogh: The Life. Hulle het destyds aangevoer Van Gogh is dood in ’n skietery, dalk ’n skietongeluk. Dat dit onwaarskynlik is dat hy homself om die lewe gebring het.
Koerante het toe gelei met koppe soos “Van Gogh vermoor” en mense het aanlyn fel gereageer. Die skrywers verwys in ‘n onderhoud later na iemand wat op ’n webwerf laat weet het: “Dit kan nie waar wees nie. Dis nie soos ek Vincent van Gogh van ‘Starry Starry Night’ ken nie!”
Einde verlede jaar het Naifeh en White Smith se hipotese ’n hupstoot gekry toe hulle dr. Vincent di Maio, ’n bekende Amerikaanse patoloog en skietwondspesialis, gevra het om alle moontlike historiese gegewens en getuienis te oorweeg en sy opinie te gee.
’n Artikel van Naifeh en White Smith oor dié jongste verwikkelings het in die Desember 2014 uitgawe van die Amerikaanse tydskrif Vanity Fair verskyn.
Di Maio het die getuienis van Paul Gachet, die seun van dr. Paul Gachet, mediese dokter wat Van Gogh by geleentheid geskilder het, van nader bekyk.
Volgens Gachet was daar “ ’n bruin en pers kring” rondom die skietwond aan Van Gogh se sy. Die pers is tevore toegeskryf aan die feit dat die wapen naby Van Gogh se lyf gehou is en die bruin is gewyt aan buskruitbrandmerke.
Di Maio meen die pers is as gevolg van bloeding onder die vel en die bruin kring is gewoon aanduiding van die wond.
Hy het ook daarop gedui dat dit vreemd is dat Van Gogh, wat regshandig was, homself in die linkersy sal skiet.
Di Maio se oordeel is dat “die wond medies gesien na alle waarskynlikheid nie deur Van Gogh self toegedien is nie. Met ander woorde: Dat hy hom nie self geskiet het nie.”
Naifeh en White Smith het in 2011 al die moontlikheid genoem dat Van Gogh getref is toe ’n skoot van ‘n vuurwapen wat jong seuns mee gespeel het afgegaan het.
Hulle het verwys na ene John Rewald wat in die 1930’s (sowat 40 jaar ná Van Gogh se dood) die inwoners van Auvers gaan pols oor die gebeure. Sommige inwoners het gepraat van ‘n groep seuns wat die skilder per ongeluk geskiet het en dat Van Gogh hulle beskerm het deur te sê hy wou homself om die lewe bring.
Toe Minnelli se fliek met Douglas in die rol van Van Gogh in 1956 verskyn het, het ene René Secrétan beswaar gemaak teen die “groteske” vergestalting van die skilder. Dit was nie hoe hy Van Gogh onthou het nie.
Secrétan (hy was toe 82) was in 1890 ’n 16-jarige seun van ’n Paryse apteker wie se gesin hulle somers in Auvers deurgebring het. Dis bekend dat die jong René ’n boelie was, dat hy ’n cowboy-uitrusting en kleinkaliber pistool gehad het (wat dikwels gestaak het).
Van Gogh, die vreemde Hollander wat hulle Toto genoem het, was vir René en sy broer Gaston die teiken van talle poetse. Hulle het rissie aan sy kwasse gesmeer (wat Van Gogh dikwels in sy mond gedruk het), sout in sy tee gegooi en op ’n keer het hulle ’n slang in sy verfkissie gesit.
Secrétan het ontken hy het ’n aandeel in die skietery gehad, maar nietemin erken dat dit sy vuurwapen was wat die skoot afgevuur het. “Dit het net gewerk wanneer dit wou en soos die noodlot dit wou hê, het dit gewerk op die dag toe Van Gogh geskiet is,” het hy gesê.
Naifeh en White Smith verdink niemand in hul boek nie, maar voer aan die skietvoorval-moontlikheid is ’n groter opsie as die selfdood-een.
In ’n e-pos aan Naifeh en White Smith het ’n kurator van die Van Gogh-museum laat weet:
“Ek dink Vincent sou die seuns wou beskerm en die ‘ongeluk’ as ‘n onverwagte uitweg sien uit sy moeilike lewe.”
Luister na ’n radio-onderhoud met Steven Naifeh na aanleiding van die biografie Vincent van Gogh: The Life wat hy en Gregory White Smith in 2011 gepubliseer het.
[iframe width=”560″ height=”315″ src=”//www.growingbolder.com/embed/772353″ frameborder=”0″ allowfullscreen=””]