Diane Victor (50) is om verskeie redes bekend. Einde verlede jaar was sy in die nuus toe sy ’n nier van ’n skenker ontvang het. Sy ly aan polisistiese niersindroom, ’n oorerflike siekte waaraan haar pa dood is. Die nieroorplanting was ’n sukses en Victor is, begeesterde kunstenaar wat sy is, weer flink aan die werk.
Johan Myburg
Hoewel sy haarself allereers as tekenkunstenaar beskou, het Wits in die 1980’s nie teken as ’n hoofvak aangebied nie – net skilder, beeldhou en grafiese drukkuns. Laasgenoemde was vir Victor die naaste aan teken en dit is hoe sy haar loopbaan as drukkunstenaar begin het. Sy het studeer onder die leiding van Giuseppe Cataneo.
Aan die einde van haar studie het sy Wits se Martienssen-prys in 1986 verower. Dieselfde jaar het sy die Sasol Nuwe Handtekeninge-prys ingepalm en in 1988 ook die Absa L’Atelier-kunsprys.
Sy het aan ’n menigte groeptentoonstellings deelgeneem en het 20 solo-uitstallings – hier sowel as in die buiteland – agter die blad. Haar werk is opgeneem in talle openbare, korportiewe en private versamelings.