Johan Myburg skryf oor die werk van die Suid-Afrikaanse kunstenaar Alexis Preller (1911-1975).
Johan Myburg
Haar katalogus-opstel vir Alexis Preller se oorsiguitstalling in die Pretoriase Kunsmuseum in 1972 begin Esmé Berman, kunsskrywer, –historikus en goeie vriendin van Preller, met dié woorde: ‘Alexis Preller is ’n komplekse, ongewone kunstenaar en ’n komplekse, ongewone man.’
Hooffoto: Alexis Preller, Still-life with Pomegranates, 1951, olie op doek (50,5x70cm), ’n werk wat opgeneem is in die Tatham-kunsmuseum in Pietermaritzburg se versameling.
Alexis Preller (1911-1975) het ná sy skoolloopbaan aan Pretoria Boys High eers as klerk gewerk voordat hy in alle erns as kunstenaar na vore getree het. Aangemoedig deur die Pretoriase argitek Norman Eaton het hy in 1934 na Londen vertrek. Die volgende jaar het hy na Suid-Afrika teruggekeer al met die Ooskus van die vasteland langs. In 1935 het Preller sy eerste solo-uitstalling aangebied.
In 1937 is hy na Parys waar hy kuns in museums en galerye bestudeer het. By sy terugkeer het hy in Swaziland gaan skilder en sy werk in Johannesburg vertoon. Hy het aangesluit by die Nuwe Groep en het in 1938 deelgeneem aan dié groep se eerste uitstalling.
Alexis Preller, Grand Mapogga III, 1957, olie op doek
(101,5x86cm), ’n werk wat opgeneem is in ’n private
versameling.
In 1939 het hy per motor na die Kongo gereis en ten tye van die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog na Pretoria teruggekeer.
Gedurende die oorlog het Preller in die veldambulanskorps diens gedoen. Ná sy internering in Noord-Afrika en Italië is hy in 1943 vrygelaat. Op sy uitstalling kort daarna in Johannesburg het sy oorlogervarings ’n sterk invloed in sy werk getoon.
In 1946 is hy weer na Europa en die volgende jaar het Alexis Preller, ’n klein versameling swart-wit foto’s met aantekeninge deur Christi Truter verskyn.
Preller is in 1948/49 na Zanzibar en die Seychelle en indrukke op dié reise het neerslag gevind in sy werk.
In 1953 is hy na Italië waar hy fresko’s bestudeer het en onder die invloed gekom het van die werk van Piero della Francesca. Op pad terug het hy Egipte aangedoen.
In 1968 is hy na Turkye en Griekeland; in 1970 na Griekeland en Italië en in 1973 na Parys en Nederland.
Alexis Preller
Preller se bydrae tot Suid-Afrikaanse kuns is in 1953 erken in die vorm van die Molteno-toekenning (wat hy saam met Jean Welz ontvang het). In 1955 het Preller ’n erepenning vir skilderwerk ontvang van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy het die land in 1954 en 1956 verteenwoordig op die Venesiese Biënnale en in 1973 op die biënnale in São Paulo.
In 1972 was daar ’n oorsiguitstalling van sy werk in die Pretoriase Kunsmuseum. Sy laaste uitstalling was in 1975 – die jaar waarin hy dood is aan ’n hartaanval.
* In 2009 het Karel Nel en Esmé Berman ‘n visuele biografie in twee bande oor Preller gepubliseer: Alexis Preller: Africa, the Sun and Shadows / Collected Images, ISBN 978-0-620-43245-0. Dié twee boeke is onontbeerlik vir enigiemand wat meer wil weet oor dié uitsonderlike kunstenaar.