Johan Myburg skryf oor enkele aspekte van Walter Battiss (1906-1982) se omvangryke kunstenaarskap
“Ek kan werklik nie sê wat kuns is nie,” het Battiss by geleentheid gesê. “Wat ek kan sê is dat die ervaring omgesit word in kleur en lyn, wat ek vermoed ‘n mens kuns kan noem.”
Die siening dat die rotskuns van die San “primitief” of selfs “barbaars” sou wees gemeet aan die “gesofistikeerdheid” van Westerse kuns, is ‘n siening wat sterk in omloop was toe Walter Battiss homself in die 1940’s as kunstenaar gevestig het.
Battiss het as 11-jarige kennis gemaak met rotsgravures (petrogliewe) op die oewer van die Rietrivier by Koffiefontein in die Vrystaat. Dit was die ingenieur William Fowler wat die jong Battiss se belangstelling in dié opsig aangewakker het en sy “kreatiewe onderbewussyn”, soos Battiss daarna verwys het, help vorm het.
In 1936, nadat hy as kunsonderwyser by Pretoria Boys High aangestel is, het hy in alle erns begin met navorsing oor rotskuns en in 1939 het sy eerste boek oor die onderwerp, The Amazing Bushmen, verskyn. Die vorige jaar het hy rotskuns in die suide van Frankryk gaan bestudeer en daar ook eerstehands kennis gemaak het met die werk van Gauguin, Matisse en Picasso.
Benewens sy waardering vir rotskuns het Battiss op sy uitgebreide reise invloede versamel wat hy byeengebring het in sy eiesoortige visuele grammatika.
In ‘n tyd toe die Europese invloed op moderne kuns in kolonies in Afrika hoogty gevier het, was Battiss besig om Europese kuns hier te moderniseer aan die hand van ‘n nie-realistiese benadering eie aan Afrika – waarop Europa neergesien het as primitief.
Toe daar na hom verwys is as die ‘Boesman-kunstenaar’ het Battiss dié tipering as benepe beskou en sy individualiteit beklemtoon.
Sy unieke, selfs speelse benadering tot kuns het daartoe bygedra dat Battiss se kuns byna onmiddellik herkenbaar is: of dit nou die honderde grafiese drukwerke (veral syskermdrukke) is waarmee hy hom as meester van dié kunsvorm bewys het; of sy kleurryke komposisies met tekeninge in dik verf, gemaak met die agterkant van ‘n kwas (sgraffito); of sy pastorale akwarelle en pentekeninge.
Maar dit is in Battiss se Fook Island waarin sy speelse benadering hoogty gevier het. As King Ferd the Third, ook bekend as Batt 155, het hy vorendag gekom met ‘n fiktiewe eiland, met munte, paspoort, alfabet die lot. Die filosofie agter dié eiland was vryheid, gelykheid en broederskap, en die najaag van geluk – goed wat in die 1970’s bra skaars was in Suid-Afrika.
In ‘n opstel wat verskyn het in Walter Battiss: Gentle Anarchist, om saam te val met ‘n oorsiguitstalling van sy werk, skryf die kunskenner en –skrywer Frieda Harmsen namate hy ouer geword het, het Battiss meer krities geword. “In 1969 het hy gesê skilderkuns het saam met Cézanne gesterf in 1906, sy (Battiss se) geboortejaar; hy het gereken Picasso is agter die tyd; hy was agterdogtig oor nuwe bewegings in die kunste; hy het gemeen kunskritiek is pretensieus en dat kunsakademies bedroewend is.”
Ná sy aftrede as hoogleraar aan Unisa in 1971 het Battiss tot en met sy dood verskeie reise onderneem. Die volgende jaar het hy Mauritius, twee keer die Seychelle, Athene en Londen besoek. Kort voor sy dood het hy nog ‘n draai gaan maak by die Documenta-uitstalling in Kassel, Duitsland.
Oor Battiss sê Karin Skawran, voormalige hoof van die departement kunsgeskiedenis en visuele kunste aan Unisa en kollega van Battiss: ‘’n Mens kan Battiss akademies nie hokslaan nie. En jy kan ook nie ‘n deurlopende ontwikkeling in sy werk bespeur nie. Hy was van nature onvoorspelbaar. En op ‘n metaforiese vlak het hy vlerke gegee aan sy droom.’