Nog voordat hy ooit in ’n vliegtuig was (in 1998 het hy die eerste keer dié geleentheid gehad), het Titus Matiyane al in sy verbeelding bo-oor stede gevlieg – onder meer met behulp van perspektiwiese foto’s in tydskrifte (en later die internet).
Johan Myburg
Aan dié verbeeldingsvlugte gee Matiyane sedert die vroeg 1990’s gestalte in tekeninge op papier. In 1992 het hy een van sy eerste tekeninge van Atteridgeville gemaak, die plek waar hy gebore is en steeds woon: ’n panoramiese blik van ’n omgewing wat hy goed ken, en een waarvoor hy nie kaarte en foto’s nodig gehad het nie. “Ek ken mos die plek waar ek woon,” het hy gesê.
Die een stad ná die ander het Matiyane geteken in sy kenmerkende gebruik van kleurpotlood en kryt, op velle papier wat met kleefband geheg is. Dié tekeninge van 2 m by 18 m tot soveel as 46 m bied verstommende vistas, wat nie kaarte is nie, maar eerder sy persoonlike panoramiese blikke op stedelike (en landelike) landskappe.
In dié blikke orden Matiyane die omgewing aan die hand van sy ervaring, inligting tot sy beskikking en sy artistieke interpretasie. In Johannesburg City of Gauteng staan Joubertpark met die Johannesburg Kunsmuseum as ’n groen baken uit in ’n oerwoud van beton. Duidelik is dié setel van die kunste, soos Museum Afrika in Newtown, neffens die snelweg, vir Matiyane persoonlike sleutelpunte. Soos ook Parkstasie wat die middestad en Braamfontein skei.
Op dié manier ondersteun hy meteen ook die gedagte dat die kartografiese weergawe nooit die landskap is nie. En hy streef dié oogmerk ook nie na nie. Sy weergawes is gelaai met emosie, met herinnerings en eie assosiasies.
Matiyane se haas onversadigbare belangstelling in geografie vuur sy behoefte aan om veral stadstonele op dié manier weer te gee. “Ek hou nie van boeke nie,” het hy by geleentheid gesê. “Ek is nie ’n groot leser nie. Maar flieks en TV – ek is mal daaroor.”
Dis veral uit flieks dat hy die inligting haal oor die gesig van stede. “Soveel flieks word in New York gemaak. Ek het New York leer ken uit dié flieks en ek is gek oor New York,” sê dié wêreldreisiger wat tekeninge van dié stad gemaak het sonder om self daar te gewees het.
Op sy eerste besoek aan Nederland is hy in Rotterdam gevra om ’n panoramiese blik van dié hawestad te teken. “Ek het hulle so verras toe ek in plaas van Rotterdam vir hulle ’n reuse-werk gee van Nederland – van die noorde, Amsterdam, Delft, Den Haag, tot Rotterdam.”
“Dit is vir my lekker as mense ‘unbelievious’ is as hulle my werk sien.”
In 2009 is Matiyane se tekeninge uitgestal as Cities of the World in die galery van die Universiteit van Johannesburg. Dit was nadat dié versameling werke, met Stephen Hobbs en die Nederlandse kurator Annemieke de Klerk aan stuur daarvan, uitgestal is in Delft, Berlyn en Bamako (in Mali).
Tot 11 November is Matiyane se jongste versameling werke, BRICS Capitals, in die UJ-galery te sien.
In dié uitstalling met Elfriede Dreyer as kurator verken Matiyane panoramas van die hoofstede van die BRICS-lande: Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika. Dit doen hy aan die hand van Panorama of Brazil (2013), Panorama of Russia (2015), Panorama of India (2015), Panorama of Shanghai (2013), Panorama of Gauteng (2014) en Panorama of Africa: Cape to Cairo (2015).
Titus Matiyane Foto: The Trinity Session
Wie is Titus Matiyane?
Titus Matiyane is in 1964 in Atterridgeville gebore. Hy het in 1989 ingeskryf vir ’n diplomakursus in argitektuur aan Unisa. Van 1987 tot 1997 het hy as kwaliteitkontroleur by Consol Glass gewerk.
Voordat hy vroeg in die 1990’s tekeninge begin maak het, het hy modelle van vliegtuie, onder meer Concorde, gebou. Van dié werk is ingesluit in ’n groepuitstalling wat Steven Sack in 1984 in die Pretoriase Kunsmuseum aangebied het.
Benewens solo-uitstallings het hy onlangs deelgeneem aan groepuitstallings in Lille (Frankryk) en Casablanca (Marokko).
Verlede jaar was sy werk ook te sien op die Cool Capital-biënnale in Pretoria.
Sy werk is opgeneem in talle versamelings, hier en in die buiteland.
Om saam te val met die 2007-uitstalling in Nederland het die boek Titus Matiyane: Cities of the World verskyn. Die samestellers is Annemieke de Klerk, Melinda Silverman, Stephen Hobbs en Wytze Patijn. Die boek is uitgegee deur die Afdeling Bouwkunde, Technische Hogeschool, Delft. 101 Uitgewers.
Matiyane se panoramiese voorstelling van Gauteng, 2010,
gemengde media op papier (3600 x 126 cm) toe dit in
Fried Contemporary in Pretoria vertoon is. Foto: art.co.za