‘Een van Friends of JAG se grootste ondersteuningsrolle is om sosiale-media-forums optimaal te gebruik om mense van die skatte wat die kunsmuseum het en is bewus te maak’
Deur JOHAN MYBURG
In die Johannesburg Kunsmuseum (JAG) in Joubertpark het die uitstalling The Evidence of Things not Seen einde verlede jaar geopen. Dié uitstalling is nog tot 31 Maart te sien en is een van die beste uitstallings tans in Johannesburg en gewis ‘n veer in JAG se hoed.
JAG het lanklaas so elegant en vars daar uitgesien. Die opening van dié uitstalling was ‘n luisterryke affêre met heelwat internasionale gaste wat die museum ná die “Black Portraiture[s]”-konferensie in November besoek het.
Musha Neluheni, kurator van JAG se kontemporêre versameling, is tans die museum se waarnemende hoofkurator nadat Antoinette Murdoch se hoofkuratorskap einde November tot ‘n einde gekom het. Murdoch was in dié pos sedert 2009 toe sy Clive Kellner opgevolg het.
Friends of JAG, die vrywillige ondersteuningsgroep wat die museum ondersteun en veral met vindingryke maniere vorendag kom om geld vir verskeie projekte in te samel, het benewens logistieke steun vir The Evidence of Things not Seen onder meer ‘n digitale katalogus saamgestel wat by www.friendsofjag.org beskikbaar is.
Volgens Marianne Fassler, sedert 2014 voorsitter van Friends of JAG, is een van die groep se oogmerke om die volledige versameling van JAG te digitaliseer, maar bowenal om kreatief deel te neem aan die totstandkoming van ‘n visie wat JAG die 21ste eeu kan inneem. “Een van ons grootste ondersteuningsrolle is om sosiale-media-forums optimaal te gebruik om mense van die skatte wat JAG het en is bewus te maak,” sê sy.
Een só ‘n projek is Visible Tones, ‘n uitnodiging aan die publiek om in samehang met The Evidence of Things not Seen foto’s via Instagram, Twitter en Facebook te deel deur #blackportrait of #friendsofJAG te gebruik. Friends of JAG se webwerf het meer inligting hieroor. Die webwerf bevat ook inligting oor lidmaatskap.
Vir The Evidence of Things not Seen, die uitstalling van werke wat die aandag op die ervarings van swart mense vestig, op portrette van swart mense soos vergestalt deur swart kunstenaars, het die kurators, Musha Neluheni en Tara Weber, werke uit die permanente versameling van JAG gebruik, onder meer dié van Gerard Sekoto, Ernest Cole, Dumeli Feni, Johannes Maswanganyi, Cyprian Shilakoe, Sam Nhlengethwa, Johannes Pokela, Tracy Rose en Zanele Muholi.
Op die oog af sou ‘n mens akkoord kon gaan dat die uitstalling aspekte van identiteit verken – benewens swart identiteit ook identiteit in terme van feminisme, in ‘n gay konteks, teen die agtergrond van revolusie en kultuur en les bes binne die raamwerk van apartheid. Heelwat van die werke in die uitstalling dateer immers van dié era.
Maar belangriker as die blote vergestalting van dié aspekte wek die versameling werke, onder meer dié van Gerard Sekoto, Ernest Cole, Dumeli Feni, Johannes Maswanganyi, Cyprian Shilakoe, Sam Nhlengethwa, Johannes Pokela, Tracy Rose en Zanele Muholi, vrae oor die manier waarop daar oor swart-wees gepraat word. Dit gaan nie soseer oor die “wat” of die “dat” van nadenke oor swart-wees nie, maar oor die “hoe”; oor die manier waarop mense nadink oor swart-wees.
Dit gaan ten diepste oor die wydgesetelde geloof (as “die bewys van dit wat ons nie sien nie”) by wit én swart dat swart lewens anders of minder of nie so waardevol as wit lewens is nie. Omgekeerd: die onwrikbare geloof dat wit beter beteken.
Dit is dié einste geloof wat #BlackLivesMatter sedert die dood van Trayvon Martin in Florida in 2012 bevraagteken.