Sonder ophou, 365 dae van die jaar, soms tot 18 uur per dag …
Johan Myburg
Frank Auerbach se Mornington Crescent, 1965, in olie op doek (1016 x 1270 mm). Dié skildery is deel van ’n private versameling. © Frank Auerbach, met vergunning van Marlborough Fine Art
Frank Auerbach
Sonder ophou, 365 dae van die jaar, soms tot 18 uur per dag, is Frank Auerbach in sy ateljee in Camden Town in die noorde van Londen besig om te verf. En elke dag skraap hy alles wat hy die vorige dag gedoen het af en begin oor.
Dit doen hy totdat hy eindelik tevrede is met die skildery. Totdat, soos hy sê, “die skildery terugpraat”. Soms duur die proses jare lank.
Uit elke 20 skilderye wat hy maak, vernietig hy 19. So het het hy al van sy werk op veiling opgekoop omdat hy later besef het dit is nie goed genoeg nie. Dié vernietig hy ook. “Dis ’n verligting om dit te kan doen,” sê hy.
Saam met Lucian Freud en Francis Bacon word Auerbach gereken as van die belangrikste na-oorlogse figuratiewe Britse skilders. Hoewel sy werk dikwels as ekspressionisties gereken word, is hy streng gesproke nié ’n ekspressionistiese kunstenaar nie. Waarna hy streef is nie soseer om uitdrukking te gee aan ’n spirituele toestand nie, maar eerder om orde te gee aan die chaos waarin die wêreld is. Dis volgens Auerbach die kunstenaar wat daardie “orde” moet aanteken.
Oor opmerkings dat sy werk misterieus is het Auerbach gesê: “Skilder is misterieus en ek wil dit nie van misterie stroop nie.”
Die aanbod om op kamera oor sy werk te praat en dit te verduidelik het hy van die hand gewys en in die kort video Frank Auerbach To the Studio (die eerste deel), gemaak in 1991, is hy aan die woord oor sy “misterieuse kuns” en pogings om dit te “demistifiseer”.
[iframe width=”350″ height=”263″ src=”https://www.youtube.com/embed/bFrJeaqnj14″ frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
“Ek hoop om iets nuut te maak wat in dié wêreld kan oorleef, iets soos ’n nuwe spesie”, sê die 84-jarige skilder vir wie Tate Britain tans ’n oorsiguitstalling, Frank Auerbach, in Londen aanbied.
Dié “nuwe spesie” haal hy uit sy onmiddellike omgewing. Hy skilder geboue en boupersele in Camden waar sy ateljee die afgelope 55 jaar is en wyer in Londen. En vir portrette het hy eweneens ’n besonder beperkte aantal sitters: sy vrou, Julia, hul seun Jake (51) en ’n paar ander modelle wat beurte maak om daagliks vir hom te poseer.
Catherine Lampert, die kurator van die Tate-uitstalling, is een van die sitters. Die afgelope 37 jaar besoek sy Auerbach se ateljee weekliks.
Auerbach is in 1931 in Berlyn, Duitsland, gebore. Op agt het sy ouers hom in 1939 onder die Kindertransport-skema na Londen gestuur om die Nazi-vervolging vry te spring. Bykans 10 000 hoofsaaklik Joodse kinders het op dié manier ’n heenkome in Engeland gevind. Sy ouers is in 1942 in ’n Duitse konsentrasiekamp dood.
Hy het aan die St. Martins-kunsskool studeer, later aan die Royal College of Art en tot in 1953 aan die Borough Polytechnic waar Leon Kosoff sy leermeester was.
Sy eerste solo-uitstalling in Londen was in 1956. In 1986 het hy Brittanje op die Venesiese Biënnale verteenwoordig en dié biënnale se groot prys, die Goue Leeu, daardie jaar met Sigmar Polke, die Duitse skilder en fotograaf, gedeel.
Hoewel hy erkenning vir sy werk gekry het, het Auerbach dit finansieel nie breed gehad nie. In ’n onderhoud het hy onder meer gesê dat hy tot in sy 50’s nooit ’n bankrekening gehad het nie en van die hand na die mond gelewe het.
In ’n ander onderhoud, met The Guardian, het hy gesê hy is dankbaar dat die voordelige kunsmark hom aan die lewe hou: “As dit nie daarvoor was nie, was ek al lankal dood”.
Nietemin meen hy die huidige opbloei in die kunsmark “waansinnig en buite verhouding is” en dat die bel die een of ander tyd gaan bars.
Die Tate-uitstalling duur tot 13 Maart.
In dié kort video, spesifiek met die Tate se oorsiguitstalling in gedagte, praat die Britse fotograaf Mary McCartney oor Frank Auerbach se werk.