Dalí se reaksie toe die groep hom uitskop was: “Ek is self Surrealisme.”
Johan Myburg
Salvador Domingo Felipe Jacinto Dalí i Domènech, die man wat na homself verwys het as die markies van Dalí van Pubol en na wie André Breton verwys het as Avida Dollars, ? anagram vir Salvador Dalí (en ‘n verwysing na sy kommersialisering van sy kuns), was dalk die bekendste (en flambojantste) kunstenaar wat binne die Surrealisme gewerk het. ‘n Mens sou kwalik kon sê dat hy nie die meeste uit sy 84 jaar op aarde gehaal het nie.
Dalí (1904-1989,) die Katalaanse kunstenaar wat op 22 in Parys kennis gemaak het met Picasso en Paryse Surrealiste, ná ‘n gloeiende aanbeveling deur sy mede-Katalaan Joan Miró, het vroeg reeds kennis gemaak met die Spaanse voorlopers van die Surrealisme. Op 18 het hy gaan studeer aan die Real Academia de Bellas Artes de San Fernando in Madrid waar die latere rolprentmaker Luis Buñuel en die digter Federico García Lorca ook studente was.
Maar dit was eers ná kennismaking met die Kubisme en Dada dat Dalí op spoor van Picasso en Miró ‘n smaak vir die Surrealisme ontwikkel het. Hoewel ‘n mens Dalí onmiddellik as Surrealis par excellence wil uitsonder, moet ‘n mens in gedagte hou dat hy talle benadering gevolg en deeglik onder die knie gekry het – van dié van Rafael en Francisco de Zurbarán tot Vermeer en Velázquez.
Die jaar 1929 was ‘n goeie jaar vir Dalí: Hy het saam met Buñuel gewerk aan die teks vir die rolprent Un chien andalou (‘n Andalusiese hond) en ook daarin ‘n rol gehad; hy het sy muse en latere vrou, Gala, ‘n suksesvolle solo-uitstalling in Parys gehad en amptelik by die Surrealiste aangesluit.
Die verbintenis met Gala het geduur tot en met haar dood in 1982, maar dié met die Surrealiste was kortstondig. In 1934 is Dalí deur die Surrealiste verhoor en uitgeskop, onder meer oor sy klakkelose steun vir fascisme. Dalí het ook later in sy lewe geen probleem gehad om die diktatorskap van Francisco Franco te steun nie.
Dalí se reaksie toe die groep hom uitskop was: “Ek is self Surrealisme.”
Dis dalk met dié oortuiging dat hy in 1936 deelgeneem het aan die internasionale uitstalling vir Surrealisme in Londen en by die geleentheid ‘n lesing gegee met ‘n duikpak aan en met ‘n batisfeer op die kop. Die helm moes mettertyd oopgeskroef word omdat hy kortasem geraak het. Dalí was 32 en op die voorblad van Time.
‘n Mens wonder soms wat die grootste was: Dalí as persona of die kuns wat Dalí gemaak het. Hoe ook al. La persistencia de la memoria (Die volharding van die geheue) van 1931 is nietemin ‘n skildery waarmee hy die wêreld verower het.
Dis die bekende voorstelling van vier horlosies in ‘n verlate landskap, drie daarvan slap asof gesmelt. Oor die betekenis van die skildery het kenners uiteenlopende menings, van wetenskaplike tot sielkundige verklarings word aangebied.
Miskien help dit om te werk van die bekende (of herkenbare) en te beweeg na die onbekende (of vreemde). Die kranse in die agtergrond is dié van sy geboortewêreld, Katalonië in Spanje. Daarby weet ons Dalí het sy skilderye dikwels beskryf as “handgeverfde droomfoto’s”.
Tyd is duidelik die saak waaroor dit gaan en miere word dikwels in Dalí se skilderye as aanduiding van verval gebruik. Die neus, oog en tong in die middel van die skildery kan as ‘n selfportret gelees word – wat die werk intens persoonlik maak. Met dié gewaarwordings kan ‘n mens self die werk interpreteer, sonder om ‘n finale verklaring te verwag.
Ter herdenking van Dalí se dood 25 jaar gelede, het die Britse koerant The Telegraph in 2014 ‘n kort lys van Dalí-trivia gepubliseer. Toets jou kennis van Dalí:
- Dalí het geweier om sy persoonlike assistente te betaal. In plaas van betaling het hy vir hulle kunswerke gegee – wat nie indertyd die huur kon betaal nie, maar wat jare later miljoene werd is.
- Hy was gefasineer deur die werk van die wetenskaplike dr. Werner Heisenberg, veral sy “onsekerheidsbeginsel”. Dalí het oor dié bewondering opgemerk: “Ek, wat voorheen net Dalí bewonder het, sal nou begin om Heisenberg te bewonder, wat baie soos ek is.”
- Dalí is uit die kunsskool geskop omdat hy gemeen het sy dosente is nie opgewasse om hom te beoordeel nie. Eintlik wou hy nie sy graad behaal nie omdat sy pa se finansiële steun sou ophou sodra hy gradueer.
- Dis geen geheim dat Dalí Brittanje nie kon uitstaan nie. Hy het na dié eiland verwys as “die onaangenaamste plek”.
- Blomkool het vir hom besondere betekenis gehad. Hy het in 1955 sy wit Rolls Royce Phantom II vol blomkool (500 kg) gelaai en van Spanje na Parys gery om daar aan ‘n gehoor te vertel “alles eindig by blomkool”.
- Sy pa het hom onterf toe hy met Gala (Elena Ivanovna Diakonova), ‘n Russiese immigrant en tien jaar ouer as hy, getrou het.
- In 1969 het Dalí ‘n kasteel in Pubol gekoop vir Gala gekoop. Daar kon hy haar op uitnodiging besoek. Dalí sowel as Gala het menige buite-egtelike verhoudings gehad.
- In die 1950’s het Dalí deelgeneem aan die TV-program What’s My Line, ‘n program waarin deelnemers moet raai wat die ateljeegas se beroep is. Volgens sy antwoord op die vrae wat die deelnemers gevra het, het dit geblyk dat hy homself beskou as skrywer, TV-persoonlikheid, atleet en strokieskunstenaar. Kyk hier na dié aflewering van die program.