“Daar is net een verskil tussen my en ‘n mal mens. Ek is nie mal nie.”
Johan Myburg
Die mensdom se belangstelling in die vreemde, die gevaarlike, die onverwagse en die vreesaanjaende – wat op Engels bekend staan as “the fascination with the abomination” – kry kwalik soveel uitdrukking as in die Surrealisme.
Maar soos dit al soveel keer in dié rubrieke geblyk het, val ? kunsbeweging nie somaar uit die lug nie. Daar is altyd die filosofie of politiek van die tyd, ontdekkings of ingrypende wêreldgebeure wat ‘n rol speel. En natuurlik die geskiedenis.
Die Surrealisme van die vroeg 20ste eeu kan nie los gelees word nie van die Middeleeuse wêreld waarin monsters voortkom uit die geloof in ‘n bonatuurlike (droom)werklikheid. Vergelyk die skilderye van Hieronymus Bosch (1450-1516) en die portrette van Giuseppe Arcimboldo (1527-1593).
As drome of die droomwerklikheid die basis vorm van die Surrealisme, volg dit noodwendig dat nagmerries ook gaan figureer. Kyk ‘n mens byvoorbeeld van die werk van Bosch, wat ‘n besonderse invloed gehad het op die werk van Salvador Dalí, val die moeisame oorgang van die Middeleeuse Gotiek na die Renaissance ‘n mens op – ‘n wêreld tussen hemel en hel soos dit blyk uit Die tuin van aardse vreugdes, die triptiek wat Bosch tussen 1490 en 1510 geskilder het.
Voeg daarby Sigmund Freud se skryfwerk oor vrye assosiasie, die verklaring van drome en die rol van die onbewuste en ‘n mens kry tog wel ‘n greep op die Surrealisme, een van die bewegings in 20ste-eeuse kuns wat dikwels as onbegryplik en vreemd gesien word. Die Surrealiste is meermale uitgekryt as waansinnig. Waarop Dalí opgemerk het: “Daar is net een verskil tussen my en ‘n mal mens. Ek is nie mal nie.”
Hoewel Dalí en René Magritte eers ná die bekende uitstalling van Surrealistiese werk in Parys in 1925 Surrealisties begin werk het, is dié twee se werk vandag die bekendste en herkenbaarste in die Surrealistiese skilderkuns. Dink maar aan Dalí se horlosies gedrapeer oor boomstompe, aan sy figure sonder ledemate en Magritte se irrasionele skaal en byna abstrakte simbole, en boonop die nadruk op erotiese assosiasies.
Maar die Surrealiste het kuns geproduseer wat verder strek as die skilderkuns. Hou in gedagte dat die Ekspressionisme en Dada maar twee van die voorlopers was van dié benadering. Benadering is ‘n veiliger woord as “styl” omdat die Surrealiste in hul maniere van uitdrukking nooit beperk gevoel het tot metode of tegniek nie.
Hier moet ‘n mens ook inreken die fotografie van die Amerikaner Man Ray (1890-1976) wat omtrent sy hele lewe in Frankryk deurgebring het; die collage-bokse van die Amerikaner Robert Rauschenberg (1925-2008); en die Duits gebore Switserse kunstenaar Merét Oppenheim se fotografie sowel as haar beeldhouagtige installasies, soos haar Objek van 1936, ‘n koppie, piering en lepel bedek met pels.
Dié werk is gemaak toe beeldhouwerke en assemblages op die voorgrond getree het as deel van die Surrealistiese kunspraktyk. In 1937 het de Britse kunskritikus Herbert Read benadruk dat alle Surrealistiese objekte verteenwoordigend was van ‘n gedagterigting wat Dalí bestempel het as “voorwerpe met simboliese funksie”. Read meen Dalí het verwys na tipiese en gewone voorwerpe wat só verander word dat dit ‘n diep persoonlike en poëtiese betekenis kry. Of, à la Freud, hoe die innerlike begeerte en aspirasie gestalte kry.
[iframe width=”560″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/KE27kd73_k8″ frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
‘n Video gemaak deur Merét Oppenheim se niggie Lisa Wenger. Die video as ‘n oorsig oor haar werk is gemaak in 2010, 25 jaar ná Oppenheim se dood in 1985.
Merét Oppenheim (1913-1985) is in Duitsland gebore hoewel sy haarself as ‘n Switserse kunstenaar beskou het. Sy het as model opgetree vir Man Ray en het ‘n verhouding met Max Ernst gehad – ‘n verhouding wat sy verbreek het om volwaardige kunstenaar te kan wees.
[iframe width=”420″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/cPYrNSwSJv0″ frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Voorbeelde van Man Ray se foto’s. Hy is bekend vir sy avant-garde foto’s (“rayographs”) waarmee hy onder meer die ideale van Dada en die Surrealisme gedien het.
Man Ray, gebore as Emmanuel Radnitzky (1890-1976) was ‘n Amerikaanse kunstenaar wat ‘n groot deel van sy lewe in Parys deurgebring het. Hy het in verskeie media gewerk, maar is veral bekend vir sy foto’s.