Einde verlede jaar het Stephan Erasmus die uitstalling Broken Text aangebied in Hazard, ? galery in Arts on Main in Johannesburg se Maboneng-buurt.
Met dié versameling werk in olie op doek, waterverf, syskerm, digitale druk, gevoude papier en ? enkele driedimensionele werk in meranti, het hy nie net aan sy voorkeur vir teks in al dié media gestalte gegee nie, maar sy bedryf as “liefdesbriefskrywer aan die muse” voortgesit.
In ? onderhoud het hy jare gelede laat blyk dat sy muse niemand anders is nie as Sophia, die vergestalting binne die gnostieke filosofie van die wysheid. “Die Wysheid roep herhaaldelik,” het hy toe gesê. “En wat ? mens moet doen is om herhaaldelik daarop te reageer. Dit is ? proses wat nie ophou nie.”
Erasmus se werk skep ? skoon, selfs steriele voorkoms. En dit is nie altyd onmiddellik toeganklik nie. Dit beplan hy doelbewus so, juis omdat hy sy werk beskou as “die metafoor vir emosies”.
“Dit is eers wanneer ? mens bereid is om tyd te bestee aan iemand anders dat jy iets van sy of haar emosionaliteit kan begryp. Eweso met my werk. My werk wys nie emosie nie. Want dit is soos ek en baie ander grootgemaak is. Maar daar is altyd sleutels soos die teks, of lettergrootte, of spasies of lyne.
“Dit kan die kyker wat tyd wil bestee, noop om te vra: ‘Hoekom en waarom?’”
Sedert die solo-uitstalling Requiem for a Cipher, tien jaar gelede in die destydse Gordart Gallery in Melville, is Erasmus besig om met woorde soos “empty”, “tragedy”, “alas”, “bad” en “never”, soos ? wafferse digter van die Engelse Romantiek liefdesbriewe te skryf.
Die teks wat hy gebruik kom uit gedigte, lirieke en veral die ballades van Nick Cave. Dié wydbekende en emosiebelaaide tekste word egter só aangebied dat dit onleesbaar en onverstaanbaar word. Geadresseer aan sy muse is dié briewe onleesbaar vir enigiemand anders. Die teks word of in klein briefies toegevou en met tou toegeknoop, of die teks word verwring sodat die kyker hoogstens dele van woorde kan uitmaak.
Openlike besinging van die liefde kry jy in Erasmus se werk nie. Daarvoor is dit te gestroop en te kripties. Maar in die proses kry die kyker deel aan die visuele spel met teks wat hom in die werk voltrek. Erasmus se liefdesbriewe versluier, hulle ontbloot nie sy gevoelens nie. Hulle is in geheime skrif, al lyk dit na ? herkenbare taal.
Die kyker besef gou die oogmerk is nie om te ontsyfer nie, maar om bekoor te word deur die nie-verbale betekenis van woorde. Die uitdaging is nie om te verstaan nie, maar om jou te verloor in font.
Trouens, pogings om te ontsyfer en te ontrafel kan die kunswerk ruïneer…
In 2007 het hy die solo-uitstalling Die middernagson eers in die Oliewenhuis-galery in Bloemfontein aangebied en die volgende jaar ook in die Dorpstraat-museum in Stellenbosch as deel van die US Woordfees.
In 2010 het hy ? beduidende hoeveelheid kunstenaarsboeke ingesluit in die solo-uitstalling Hartland in die Absa-galery in Johannesburg. Kunstenaarsboeke is ? genre wat Erasmus die afgelope dekade dikwels uitgestal het en waarin hy uitblink. In 2010 het hy deelegeem aan die vierde internasionale biënnale vir kunstenaarsboeke in die Egiptiese stad Alexandria.
Besoek Stephan Erasmus se webwerf hier.
0122 vk1 stephan
Split Text, agt digitale drukke op argivale papier – deel van die onlangse Broken Text.
Broken Patterns II, 2015, olie op doek (150 x 150 cm).
Dead Bunny Society (DBS)
Saam met sy medekunstenaars Dirk Bahmann, Neil Nieuwoudt en Peter Mammes het Erasmus verlede jaar die Dead Bunny Society (DBS) gevorm.
Die oogmerk met DBS is om ? kunstenaarsgemeenskap op dreef te kry wat doelwitte deel en wat mekaar kan ondersteun. Vroeër vanjaar het hulle presies dit gedoen toe hulle op die Turbine Art Fair ? stalletjie gehad het en ook die werk van jonger en ander kunstenaars vertoon het. Dieselfde het hulle gedoen op die Fringe Art Fair in Maboneng in September.
Besoek ook hul Facebook-blad hier.
Dirk Bahmann, Stephan Erasmus, Neil Nieuwoudt en Peter Mammes.
Dié vier het in November ? groepuitstalling aangebied in The Art Room in Parkhurst.