In 1936, die jaar waarin die Spaanse Burgeroorlog uitgebreek het, het Salvador Dalí ‘n skildery gemaak wat bekend staan as Soft Construction with Boiled Beans (Premonition of Civil War). Hoewel voorstudies vir dié werk dateer van 1934, is dit nie seker of Dalí die titel ná die oorlog aan dié skildery gekoppel het nie.
Johan Myburg
Hoe ook al, die skildery verbeeld ‘n selfvernietigende kreatuur (wat die oorlog inderdaad was) met ‘n lyf in twee geskeur: die een deel met die kop en bors en been en die ander met die oorblywende ledemate. In die prominente gesig in die een deel en die klouagtige hand in die ander sit soveel frustrasie, wanhoop en fisieke pyn opgesluit. Die hele spulletjie balanseer op ‘n kabinet met ‘n laai.
Hou ‘n mens Dalí se linksgesinde gevoelens van die tyd in gedagte (hy het later die fascisme van Franco gesteun), kan dié werk dui op die Tweede Spaanse Republiek met brein, maar met min spierkrag teenoor die Fasciste se oer-aggressie. Die klein kabinet kan dui op die power administrasie van die Spaanse Republiek. Die Katalaanse lug is nog besonder blou, maar die oorlogswolke is besig om saam te pak.
Oor die bone in die skildery het Dalí opgemerk: “’n Mens kan kwalik al dié onbewuste vleis sluk sonder melancholiese groente.”
Dié fel reaksie van Dalí en ander Spaanse Surrealiste soos Joan Miró en Pablo Picasso (en ook skrywers, digters, rolprentmakers ensovoorts) moet ‘n mens nie los van die onderbou van die Surrealisme as kulturele beweging sien nie. Die impak en gevolge wat die Dadaïste tydens en ná die Eerste Wêreldoorlog ervaar het, het bly voortleef in die geheue van die Surrealiste.
In 1938, toe Miró uitgewyk het na Parys, het hy daar ‘n klein reeks etse, bekend as die Swart-en-rooi-reeks, gemaak waarin hy kommentaar gelewer het op die uitsigloosheid en bloedvergieting van die burgeroorlog, spesifiek gemik op die vergrype van Franco se troepe. Miró se etse met biomorfiese vorms in swart en rooi is nie minder eksplisiet as byvoorbeeld sy landgenoot Francisco Goya se Teenspoed van oorlog, 200 jaar tevore nie.
Maar die bekendste protes teen dié oorlog was en bly seker Picasso se Guernica, ‘n skildery wat hy gemaak het in opdrag van die Spaanse Republikeinse regering vir die Paryse wêreldskou van 1937. Soos Miró het hy in Parys gewoon. Picasso het ná 1934 nie weer na Spanje teruggekeer nie.
Die skildery verwys na die uitwissing van Guernica, ‘n dorpie in die Baskiese streek van Spanje, wat sterk Republikeins-gesind en gekant teen die Nasionaliste van Franco was.
Op 26 April 1937 het bomwerpers van die Duitse kondor-legioen die dorpie vir twee uur lank aangeval. Hitler het steun gebied aan die Nasionaliste.
Ten tyde van die aanval was die meeste inwoners vroue en kinders. Die mans was elders, opgeroep vir oorlog.
Toe Picasso gepor is om die skildery te verduidelik, het hy gesê: “Die bul is ‘n bul en die perd is ‘n perd. Jy kan betekenis gaan heg aan sekere goed in my skilderye, maar dit is nie my gedagte om betekenis aan goed te heg nie … Ek skilder vir die skilder daarvan. Ek skilder goed vir wat dit is.”
In 2012, 75 jaar nadat Guernica gemaak is, het die skrywer Alejandro Escalona opgemerk: “Guernica is vir skilderkuns wat Beethoven se Negende vir musiek is: ‘n kulturele baken wat nie net teen oorlog getuig nie, maar vir hoop en vrede. Dis kommentaar op volksmoord – van El Salvador tot Bosnië.”
In 2012 was Pablo Picasso se Guernica, die werk wat hy geskilder het na aanleiding van die aanval op die gelyknamige dorpie in Spanje in 1937, 75 jaar oud.
Dié skildery is deel van die permanente versameling van die Reina Sofia-kunsmuseum in Madrid.
In 2012 het die museum uitgebreide ondersoeke gedoenmom vas te stel wat die toestand van dié werk is. Guernica is oor die wêreld heen uitgestal en kenners vrees die tande van die tyd het dié werk dalk verniel.
’n Robot met ’n kamera daarop gemonteer word ingespan om mikroskopiese infrarooi- en ultraviolet-foto’s van die werk te neem. Die masjien is só ontwerp dat die skildery in die Reina Sofia waar dit hang ondersoek kon word.
Volgens Jorge Garcia Gomez-Tejedor, die museum se bewaringshoof, is die skildery op doek “delikaat, in die lig daarvan dat dit deur die jare soveel keer vervoer is”. Nietemin het hy gesê restourasie van die skildery word nie oorweeg nie.
In 1998 is ’n minder indringende ondersoek gedoen en toe het 129 letsels duidelik geword. Dit sluit in krakies, merke en vlekke.
Picasso het Guernica geskilder pas ná die begin van die bloedige Spaanse Burgeroorlog en dit is in 1937 vir die eerste keer in Parys uitgestal.
Vir die volgende 20 jaar is die werk in Europa en die VSA vertoon. Dis elke keer losgemaak van die spanraam en opgerol om vervoer te word.
In 1981, nadat demokrasie in Spanje herstel is ná die dood van die diktator Francisco Franco, is Guernica van die New York-museum vir moderne kuns (Moma) na Madrid vervoer. Uit vrees vir beskadiging is dit eers agter koeëlvaste glas in die Prado in Madrid vertoon voordat dit ’n ereplek in die Reina Sofia gekry het.
Die monochroomwerk verbeeld die afgryslikheid van oorlog. Die dorpie Guernica is op ’n lentedag in 1937 gebombardeer deur die Duitse en Italiaanse lugmag wat Franco in die oorlog gesteun het.
Salvador Dalí se Soft Construction with Boiled Beans (Premonition of Civil War), 1936, olie op doek. Dié skildery is in die Philadelphia-kunsmuseum in die VSA.