In Vrouekeur van 10 Junie skryf Johan Myburg oor die Surrealistiese kunstenaar Salvador Dalí. Die inligting hier onder is ter aanvulling tot die rubriek in Vrouekeur.
Johan Myburg
Ter herdenking van Dalí se dood 25 jaar gelede, het die Britse koerant The Telegraph in 2014 ‘n kort lys van Dalí-interessanthede gepubliseer. Toets jou kennis van Dalí:
- Dalí het geweier om sy persoonlike assistente te betaal. In plaas van betaling het hy vir hulle kunswerke gegee – wat nie indertyd die huur kon betaal nie, maar wat jare later miljoene werd is.
- Hy was gefasineer deur die werk van die wetenskaplike dr. Werner Heisenberg, veral sy “onsekerheidsbeginsel”. Dalí het oor dié bewondering opgemerk: “Ek, wat voorheen net Dalí bewonder het, sal nou begin om Heisenberg te bewonder, wat baie soos ek is.”
- Dalí is uit die kunsskool geskop omdat hy gemeen het sy dosente is nie opgewasse om hom te beoordeel nie. Eintlik wou hy nie sy graad behaal nie omdat sy pa se finansiële steun sou ophou sodra hy gradueer.
- Dis geen geheim dat Dalí Brittanje nie kon uitstaan nie. Hy het na dié eiland verwys as “die onaangenaamste plek”.
- Blomkool het vir hom besondere betekenis gehad. Hy het in 1955 sy wit Rolls Royce Phantom II vol blomkool (500 kg) gelaai en van Spanje na Parys gery om daar aan ‘n gehoor te vertel “alles eindig by blomkool”.
- Sy pa het hom onterf toe hy met Gala (Elena Ivanovna Diakonova), ‘n Russiese immigrant en tien jaar ouer as hy, getrou het.
- In 1969 het Dalí ‘n kasteel in Pubol vir Gala gekoop. Daar kon hy haar op uitnodiging besoek. Dalí sowel as Gala het menige buite-egtelike verhoudings gehad.
- In die 1950’s het Dalí deelgeneem aan die TV-program What’s My Line, ‘n program waarin deelnemers moet raai wat die ateljeegas se beroep is. Volgens sy antwoord op die vrae wat die deelnemers gevra het, het dit geblyk dat hy homself beskou as skrywer, TV-persoonlikheid, atleet en strokieskunstenaar. Kyk hier na dié aflewering van die program.
[iframe width=”420″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/iXT2E9Ccc8A” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Salvador Dalí, La persistencia de la memoria (Die volharding van die geheue), 1931 (24 x 33 cm), olie op doek.
Een weergawe van Dalí se White Aphrodisiac Telephone (1936), hy het meer as een gemaak, is in die versameling van die Johannesburg Kunsmuseum.