Hoewel Frankryk teen die draai van die 20ste eeu die hart van moderne kuns vergestalt het, was Rusland tussen 1910 en 1920 die plek waar die avant-garde die botoon gevoer het.
JOHAN MYBURG
Aanvanklik was dit met dié land se musiek en teater waarmee die Weste eerste kennis gemaak het – in die vorm van die ballet-impresario Sergei Diaghilev se Ballet Russe wat in 1909 die eerste keer in Parys opgetree het.
Op dié manier het die werk van Diaghilev se ontwerpers vir die verhoog, Leon Bakst (1866-1924) en Mikhail Larionov (1881-1964), bekend geword. En saam met Larionov ook die werk van sy leerling Natalia Goncharova (1881-1962).
Russiese moderne kuns het in die eerste dekade van die 20ste eeu gesteun op Russiese volkskuns, die sogenaamde lubok, met ‘n skeut primitivisme aangevul deur invloede van Kubisme en Futurisme.
Ná ‘n reeks lesings oor Futurisme wat Marinetti in Moskou aangebied het, het Larionov en Goncharova in 1911 met Rayonisme vorendag gekom. Wat vir hulle belangrik was, was ruimtelike vorms wat gestalte gekry het in die weerkaatsende kleurstrale (“rays”). Die fokus was op kleur en veral op die intensiteit, diepte en tekstuur van kleur.
Rayonisme het nie lank geduur nie – teen 1914 was sy blus uit. Maar toe was Kazimir Malewich (1878-1935) reeds ‘n jaar lank doenig met sy benadering wat hy Suprematisme genoem het. In 1915 het Malewich saam met 13 ander kunstenaars ‘n uitstalling in St. Petersburg, Die laaste Futuristiese uitstalling van skilderye 0.10, aangebied waarin die ideale van die Suprematisme geseëvier het: geometriese vorms soos sirkels, vierkante en reghoeke geverf in bra beperkte skakerings.
Suprematisme was ‘n vorm van abstraksie wat berus het op, soos Malevich aangevoer het, “oorheersing van die suiwer artistieke gevoel” eerder as op ‘n visuele weergawe van objekte.
Noem ‘n mens die naam van Malevich is dit sy Swart vierkant wat onmiddellik by jou opkom. Van dié skildery het hy meer as een weergawe gemaak – die eerste daarvan in 1915. Die laaste van die vier weergawes is in die laat 1920’s of vroeg 1930’s gemaak.
Die Swart vierkant in olie op linne (79,5 x 79,5 cm) was deel van die 1915 0.10-uitstalling en het onmiddellik aandag getrek. Malevich het dié skildery beskryf as “die voorkoms van die nuwe kuns … die eerste stap van suiwer skepping”.
Getrou aan die beginsels van Suprematisme is daar aan dié skildery niks representatief nie. Dis gewoon ‘n blok swart verf wat die doek oorheers, met beklemtoning van die vlakheid van verf eerder as diepte.
‘n Honderd jaar later is Malevich se Swart vierkant bra gehawend. Die swart verf het erg gekraak en die wit agtergrond slaan deur. Nietemin is dié skildery waarlik ikonies en word dit deur kunshistorici gereken as “die zero-punt van skilderkuns”.
Verlede jaar het navorsers verbonde aan Moskou se Tretjakow-galery vasgestel agter die verfwerk van die Swart vierkant (1915) lê daar twee ander skilderye en ‘n inskripsie.
Die galery, wat drie van die vier Malevich-vierkante besit, het met behulp van X-straal-ondersoeke dié ontdekking gedoen.
“Ons het altyd vermoed daar was iets agter die vierkant,” het een van die navorsers in November verlede jaar in ‘n onderhoud gesê. “Nou het ons bevestig daar is twee komposisie – die een Cubo-Futuristies en die ander proto-Suprematisties.”
Die ondersoek het ook ‘n handgeskrewe nota onder die wit rand rondom die vierkant aan die lig gebring. Voorlopige verslae dui daarop dat die nota, geksryf deur Malevich, lui: “Negers wat in ‘n grot baklei.”
Die nota mag dalk ‘n verwysing wees na ‘n skildery wat die Franse skrywer Alphonse Allais in 1897 geskilder het, Combat des Negres dans une cave, pendant la nuit (Negers wat in die nag in ‘n kelder baklei).
As dié voorlopige verslag korrek is, sal dit ‘n vermoede bevestig dat daar ‘n historiese verband is tussen Malevich se skildery en die vroeëre Franse skildery.
Malevich se verkenning van swart abstraksie het veral in Amerikaanse kuns ná die Tweede Wêreldoorlog weer opgeduik, in die werk van kunstenaars soos Robert Motherwell, Ad Reinhardt en Mark Rothko.
Hoewel Malevich ook beeldhou-reliëfwerk gemaak het, was Vladimir Tatlin (1885-1953) die vernaamste Russiese beeldhouer van die tyd. In 1918, net ná die Russiese Revolusie, het Lenin voorgestel dat elke dorp ‘n monument behoort te hê wat die helde van die revolusie gedenk. Die meeste van dié resultate was minderwaardig, maar in 1919 het die departement van skone kunste Tatlin opdrag gegee om só ‘n monument vir Moskou te ontwerp.
Vladimir Tatlin (1885-1953) se toring of Monument vir die Derde Internasionaal (1919-1920) was bedoel as ‘n monument vir die Bolsjewik-revolusie van 1917. Hoewel modelle vir dié monument, wat in skaal die Eiffel-toring sou oortref, bestaan, is dit nooit opgerig nie.
Volgens Tatlin se ontwerp sou die struktuur gemaak wees van staal en glas. Dié toring, as simbool van moderniteit, sou bestaan het uit ‘n dubbel heliks wat 400 m die lug in spiraal. Die twee strukture sou elk teen ‘n eie tempo roteer.
Dié werk van Tatlin het as inspirasie gedien vir menige kunstenaar wat die Revolusie gesien het as ‘n nuwe begin vir kuns in ‘n post-revolusie-omgewing.
Dié monument is egter nooit opgerig nie.