“Ek probeer oomblikke van stilte, van beweging, oorgang en verandering registreer in my skilderye.”
Johan Myburg
Hoewel Ronel de Jager haar nie laat beperk tot een medium nie – sy werk ook gemaklik in installasiekuns, fotografie en video – is dit daar skilderwerk wat fassineer, juis vanweë haar multidissiplinêre benadering tot skilder.
Soos wat camera obscura, later stilfotografie en nog later die rolprentkamera ? onuitwisbare invloed op skilderwerk gehad het, so raak ‘n mens die afgelope paar dekades bewus van die invloed van video en digitale media. Afgesien van die bewegende beeld is dit die vermoë om te kan “pause” eerder as om te “stop”, om te kan “fast forward” en bowenal om in stadige beweging pieksel vir pieksel te kan betrag, wat neerslag vind in skilderwerk.
De Jager benut dié tegniese moontlikhede in haar skilderye, maar benader skilder boonop met die oog en hart van ‘n installasiekunsteaar.
In 2014 en 2015 het sy met drie uitstallings, of eerder een uitstalling met drie manifestasies, bewys gelewer van dié vernuf waaroor sy beskik. In A.M. (After Midnight), Prelude, die eerste van die drie, het De Jager in Room, ‘n klein galery in Braamfontein, 14 klein skilderye vertoon tesame met lig- en video-projeksies bo-op en bo-oor die skilderye.
Geheel verdonker en met ‘n klankbaan van murmelende klaviermusiek het sy die kyker se aandag gedwing op die beelde teen die oorkantste muur. Die onderwerpe van die skilderytjies wisselend van ‘n skerf pomelo, ‘n kerktoring, ‘n opwaartse blik op ‘n plafon met ‘n dakwaaier (Staring at the Ceiling, Again). Maar bowenal skadu’s teen ‘n muur. Bo-op dié gestolde skadu’s het sy ‘n video met bewegende skadu’s, in dieselfde tint en tonaliteit, geprojekteer.
In die tweede aflewering, A.M. (Interlude), wat sy ook in 2014 tydens die Turbine Art Fair in Johannesburg vertoon het, het De Jager haar kykers se blik weer bepaal deur hulle op te laat kyk na ‘n spiraal-projeksie van skadu’s teen die plafon. Dis duidelik dat sy nie net “wys” nie, maar ook aanduiding gee hoe ‘n mens moet kyk. Wat jy gou besef belangrik is vir haar siening van kuns.
Haar skilderye van skadu’s kom uit haar eie nanagtelike wakkerlê en staar na skadu’s teen haar kamermuur. En of ‘n mens nou die aanleidende faktore snap of nie, dit is nie belangrik nie. Wat belangrik is, is dat die kyker soortgelyke kykervaring moet hê om haar of sy eie betekenis aan die werk te heg.
In 2015 het De Jager A.M. (After Midnight) aangebied in Lizamore & Associates in Johannesburg: ‘n kulminasie van elemente in die vorige twee uitstallings en ‘n verdere verkenning van haar omgewing.
En weer het ‘n mens bewus geword van haar tegniese vernuf én van die manier waarop sy ‘n uitstalling inrig op só ‘n manier dat jou kyk bepaal word deur die manier waarop sy wil hê dat jy moet kyk. Op ‘n manier bied De Jager haar werk omgewing-spesifiek aan en verleen sy op dié manier ‘n verdere onuitgespelde dimensie aan haar skilderwerk.
Haar bydrae tot verlede jaar se Jozi Land Art in die botaniese tuin in Emmarentia was tamaai wit skildersdoeke wat sy onder bome opgestel het. Met die son wat skadu’s daarop verf. Solank die son skyn.
Uit De Jager se benadering tot skilder blyk dat ‘n enkele skildery (of selfs ‘n uitstalling) nooit geïsoleerd staan nie – daar is altyd iets wat daaraan voorafgaan. Net soos daar ‘n volgende skildery (of uitstalling) is wat daarop volg. Op dié manier, beduie sy, is kyk ook nooit geïsoleerd nie.
Besoek ook www.roneldejager.com vir meer inligting oor die kunstenaar.
Kyk hier na twee kort video’s wat ‘n prentjie gee van Ronel de Jager se uitstalling A.M. (After Midnight), Prelude. Die uitstalling is in 2014 in Room in Braamfontein, Johannesburg, aangebied.
[iframe width=”560″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/j3iGAEyG3DQ” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Ronel de Jager, After Midnight, Morning Comes, 2014/2015, olie op doek (180 x 180 cm).
Ronel de Jager in die botaniese tuin in Emmarentia, Johannesburg, besig om haar skildersdoeke op te stel vir die son om skadu’s te verf. Dit was tydens die Jozi Land Art-uitstalling in 2015.
Ronel de Jager, On the Nature of Daylight II, 2015, olie op doek (130 x 180 cm).