Verskeie boeke oor Robert Hodgins se kuns is gepubliseer
Johan Myburg
Om saam te val met die 2002 Aardklop toe Hodgins feeskunstenaar op dié kunstefees in Potchefstroom was, is ’n koffietafelboek, Robert Hodgins, deur Tafelberg uitgegee. (ISBN 0 624 04065 8)
Die artikels in dié boek is geskryf deur Brenda Atkinson, Rayda Bekker, Ivor Powell, Kendell Geers en Michael Godby.
In 2012 het A Lasting Impression: The Robert Hodgins Print Archive met Anthea Buys as redakteur verskyn. Die publikasie van dié boek het saamgeval met die uitstalling in WAM (Wits se kunsmuseum) van die 400 werke wat Hodgins aan die universiteit bemaak het.
Die skrywers is Anthea Buys, Julia Charlton, Michael Godby, Alex Horsler, Mpho Matheolane, Tracy Murinik, Sean O’Toole, Colin Richards, Warren Siebrits en Kathryn Smith.
ISBN 978 873672 00 9
Met The Ceramic Art of Robert Hodgins (2008) het Retief van Wyk ’n faset van Hodgins se kuns gedokumenteer – een waarvan min mense bewus is. Hodgins het vir 18 jaar elke Maandag sy ding gedoen op keramiekborde wat Van Wyk, vakleier in glas-en-keramiekkuns aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie, vir hom gemaak het.
Die besonder mooi boek (ISBN 978 0 620 40339 9) bied toegang tot ’n kunsvorm wat Hodgins mateloos geniet het – juis omdat, soos hy gesê het, ‘ek nie daarvan ’n lewe moes maak nie’.
Hodgins se skilderye, grafiese en keramiekwerk kom van tyd tot tyd onder die hamer op kunsveilings in Kaapstad en Johannesburg.
SOURCES
Johan Myburg en verskaf