“Die landskap het ‘n groter invloed op my as wat ek op die landskap het.”
JOHAN MYBURG
Richard Long is in 1945 in Bristol gebore. Hy het aan die St. Martin-kunsskool in Londen gestudeer. Hoewel hy vier keer benoem is vir die gesogte en berugte Britse kunsprys, die Turner-prys, het hy dit in 1989 verower.
Long het ‘n volgehoue en betekenisvolle bydrae gemaak tot die visuele kunste en veral tot land- of minimalistiese kuns. Sedert 1968 is sy werk wêreldwyd uitgestal: In 1969 het hy byvoorbeeld deelgeneem aan Arte Povera in Italië en Earth Art in New York.
In 1971 is sy werk vertoon in New York se Guggenheim-museum en die volgende jaar in Moma se Projects-galery. In 1972 is hy genooi om werk te vertoon op Documenta 5 in Kassel, Duitsland, en tien jaar later ook op Doumenta 7. In 1976 en weer in 1980 het hy Brittanje verteenwoordig op die Venesiese Biënnale. Sy werk was van meet af stap-gebonde. Sy staptogte sluit in dié in Mogolië, Bolivië, Kanada, Nepal, Finland, Ysland en Suid-Afrika.
In 1967, toe Richard Long nog ‘n student was aan die St. Martins-kunsskool in Londen, het hy dikwels geryloop tussen Bristol, sy tuisdorp, en Londen. Op een van dié reise het hy eendag, tussen twee ryloopgeleenthede, in ‘n veld in Wiltshire vorentoe en agtertoe geloop oor ‘n stuk turf totdat ‘n sigbare lyn in die landskap gevorm het. Die foto van dié lyn, A Line Made by Walking, 1967, is in die besit van Tate Britain.
Die afgelope 50 jaar steun Long (70) se kuns steeds op die elemente van daardie vroeë werk: meedoënlose stap en die fokus op onbestendigheid, of dan verganklikheid.
Benewens die feit dat die lyn in die Wiltshire-gras lank nie meer daar is nie, en afgesien daarvan dat Long self afwesig is in die foto, het hy met dié werk ‘n visuele taal geskep wat hy met groot welsprekendheid gebruik in sy werk.
Long is sonder twyfel een van die voorste eksponente van landkuns waarin die kunstenaar natuurlike materiale vind en binne die konteks van daardie omgewing omskep. Landkuns is nie dieselfde as landskapkuns nie – laasgenoemde sou kuns wees waarin die landskap verbeeld word.
Dikwels is landkuns nie maklik bereikbaar nie en omdat dit so vlietend is, is foto’s as dokumentasie daarvan meestal die enigste manier om dit gesien te kry. En daarom vertoon hy gereeld foto’s van sy werk. “Galery bied my die moontlikheid om my werk by die publiek uit te kry,” sê hy.
Wat die foto van sy werk egter nié wys nie – en dis waar die afwesigheid inkom – is die tog wat onderneem word om ‘n kunswerk te maak.
Long het staptogte oral in die wêreld onderneem. En op dié togte het hy werk agtergelaat. Soos dié een teen ‘n hang naby die kruin van Kilimandjaro wat hy in 1969 gemaak het. Dit was op sy eerste besoek aan Afrika. Die Afrika-landskap het hom bekoor en in 2004 was hy in die Karoo om kuns te kom maak en in 2009 was hy in die Wieg van die Mensdom as gas van die Nirox-stigting op ‘n kunstenaarsverblyf. Volgende maand is Long een van die kunstenaars wat deelneem aan die Winter Sculpture Fair wat op die Nirox-landgoed aangebied word. Meer hieroor in volgende week se rubriek.
In 2011 het Long sy eerste uitstalling – van foto’s, beeldhou-installasies asook ‘n reeks vingerafdruk-tekeninge wat op Nirox gemaak het – in die Nasionale Kunsmuseum in Kaapstad aangebied.
Long se werk setel in die aksie van stap en in die vermindering en verskuiwing van vorms en voorwerpe, soos om klipformasies te herrangskik of nuwes te skep. Die minimalistiese “inmenging”, soos in die Wiltshire-werk, deur die kunstenaar deur byvoorbeeld beskikbare klippe slegs in ’n lyn te plaas, gee aan die landskap ’n nuwe identiteit.
Dis duidelik uit sy werk dat lyne of kringe klippe se visuele krag lê in die omgewing en die agtergrond, wat gebruik word om die werk omgewingspesifiek te maak. Dit is altyd die landskap wat die bepalende faktor is. Soos Long sê: “Die landskap het ‘n groter invloed op my as wat ek op die landskap het.”
Hoewel die beweegrede agter sy togte en kuns ‘n belangrike plek in sy werk inneem, beskou Long homself nie as ‘n konseptuele kunstenaar nie. “My geslag,” het hy eens in ‘n onderhoud gesê, “was ‘n reaksie op popkuns.”
Richard Long
Dié kort video bied ‘n oorsig van Richard Long se vernaamste werk.
[iframe width=”420″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/39G_rXkJanw?rel=0″ frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Kyk na dié video waarin Richard Long en die argitek Norman Foster praat oor Long se modderwerk Riverlines in die atrium van die Hearst Tower in New York. Foster is die argitek van die gebou. Long kry die modder waarmee hy verf van die Avon-rivier by Bristol. Hy werk al sedert sy kinderdae met dié modder. Die video is gemaak in 2006.