In 1907 het ’n 25-jarige Spanjaard ’n skildery gemaak wat die Paryse kunswêreld op sy agterpote gehad het. Kunstenaars en kritici het vir ’n wyle hul strydbyle begrawe en ooreengekom dat Les demoiselles d’Avignon skokkend en in slegte smaak was. Henri Matisse was boos oor dié werk en het gemeen dit was ’n swak poging om ’n vierde dimensie te skilder.
JOHAN MYBURG
Picasso se Les demoiselles d’Avignon, 1907, olie op doek (243,9 × 233,7 cm). Dié skildery is in besit van die Museum of Modern Art in New York.
Maar met dié skildery waaraan die jong Pablo Picasso twee jaar lank gewerk het, het hy die 20ste eeu ’n kunsrigting gegee wat besonder invloedryk was: die Kubisme.
Daar is mense, soos Norman Mailer in sy biografie van Picasso, wat meen Picasso het Les demoiselles d’Avignon geskilder in antwoord op Matisse se Le bonheur de vivre (1905-1906) waarmee hy alle aandag op hom gevestig het in die Salon des Independants. As skilderwerk tradisioneel ’n ewewigtige interaksie tussen kleur en vorm was, en Matisse eersgenoemde kon ontwrig in sy Le bonheur, dan sou Picasso dit doen ten opsigte van vorm. Aldus Mailer.
Henri Matisse se Le bonheur de vivre (Die vreugde van die lewe), 1906, olie op doek (176,5 × 240,7 cm). Dié werk is in besit van die Barnes-versameling in Philadephia, VSA.
En die Afrika-beelde wat volop in die Parys van die tyd was, sou Picasso se paspoort word.
Die titel vir die werk het eers in 1916 gekom toe André Salmon, ’n kunskritikus en vriend van Picasso, also daarna verwys het. Picasso was glo nie gaande oor die titel nie, maar dit het bly steek.
Dit was die einste Salmon wat die werk beskryf het as “die immer-gloeiende krater waaruit die vuur van kontemporêre kuns voortkom”.
Die titel van dié werk help die kyker nie veel om dit uit te pluis nie. Trouens dit kan misleidend wees. Dié meisies van Avignon kom nie van die stad in die suide van Frankryk nie, maar van Avignon-straat in Barcelona, Spanje ¬– Avignon-straat wat bekend was vir sy bordele.
Les demoiselles d’Avignon is ’n uitbeelding van vyf vroue in silwerwit en blou gewade. Twee van hulle staan met ontblote borste arms na bo. Hulle staar direk en met groot swart oë na die kyker. Die ander drie is gemasker: Links staan ’n vrou in profiel terwyl die twee regs Afrika-maskers op het. Die figuur regs voor sit met haar rug na die kyker en loer oor haar linker skouer. Dit lyk asof sy ’n skyf waatlemoen eet. In die voorgrond is vrugte: waatlemoen, druiwe, ’n appel en ’n peer.
Dis figure is hoekig, met skerp elmboë en driehoekige borste.
Uit die talle voorsketse vir dié werk blyk dit Picasso het in ’n stadium ’n mansfiguur beplan aan die linkerkant van die doek. Daarteen het hy besluit en volstaan met die vyf vroue wat soos Manet se Olympia die kyker direk aankyk.
Édouard Manet se Olympia, 1863, olie op doek (130,5 × 190 cm). Dié werk wat tans in die Musée d’Orsay in Parys is, het op sy dag gesorg vir ’n herrie soos dié een wat Picasso se Les demoiselles d’Avignon ontketen het.
Hoe maak ’n mens sin van dié skildery? Die Amerikaanse kunskritikus Leo Steinberg gebruik die begrip “devenusivering” om te sê Picasso verwerp met dié skildery die skildertradisie sedert die Renaissance. Van Boticelli se Venus in Die geboorte van Venus is daar weinig indien enigiets oor.
Sandro Botticelli se Nascita di Venere (Die geboorte van Venus), tempera op panel (1484-1486). Dié skildery is in die Uffizi-galery in Firenze, Italië.
In sy voorstelling van die naakte vroueliggaam is Picasso besonder brutaal. Hy stroop die skildery van perspektief en druk die figure as’t ware een-dimensioneel teen die plat skilderdoek vas.
Die belang van die skildery is dat Picasso daarmee nie net die skildertradisie waarop hy bou omverwerp nie, maar dié benadering tot skilder inderdaad áfleer en ’n nuwe visuele “taal” ontwikkel om die modern samelewing mee te beskryf.