In 2010 het ? jong kunstenaar ? klein solo-uitstalling aangebied in Upstairs@Bamboo in Melville, Johannesburg. Peter Mammes se Absurd Objects and Other Relics for the Future was die neerslag van ? twee maande lange tog wat hy onderneem het van Johannesburg na Kaïro en sy verblyf aldaar vir nog ? maand.
Johan Myburgh
Daar was in dié uitstalling dalk minder direkte verwysings na Egipte as wat ’n mens sou verwag, maar Amharies, ’n taal wat in Ethiopië gepraat word, het dikwels in die werk opgeduik. So ook ’n algemene belangstelling in geskiedkundige verwysings waar hy dit ook al langs die pad teengekom het.
Maar dié uitstalling was meteen ook die begin van Mammes se toekoms as kunstenaar – met meer absurde voorwerpe en ander relikte op groter skaal. Benewens tekeninge in Indiese ink op papier, met ’n besliste tattoe-kwaliteit, het sy swart-wit ontwerpe oornag gesog geraak as oorgroot muurskilderye.
Priest Espresso Bar in Johannesburg se Parkwood-kunsbuurt was een van die eerstes om met ? muurskildery van Mammes te spog. Daarna het verskeie opdragte gevolg en gaandeweg het hy sy vernuf verfyn, onder meer deur middel van ? Lizamore & Associates-mentorskapprogram met Diane Victor as mentor.
Mammes (30) het in 2004 gematrikuleer aan die Nasionale Skool vir die Kunste in Braamfontein en daarna besluit om nié formeel kuns te gaan studeer nie, omdat hy heeltyds wou teken. En dit is wat hy sedertdien doen. Benewens om te reis, want eintlik beteken reis vir hom die geleentheid om op ’n ander plek te gaan teken – plekke soos Indië en Rusland. In Moskou was dit die Russiese samelewing wat hom gefassineer het en in Indië die straatkuns, dikwels met godsdienstige temas en soms besonder eietyds. Maar altyd mooi, soos hy dit in Jodpur, Jaipur, Bikaner en Varanasi aangetref het. In Varasani was hy aangegryp deur die gebruik van opelug verassings.
In Indië het hy mense met gebreke sover gekry om vir hom te poseer. ‘Indië het dalk nie meer mense met gebreke as wat ons het nie,’ sê hy, ‘maar hulle word nie weggesteek nie.’ Alles wat hy gesien het, het hy geteken.
“Wat my boei is die teenstrydighede in ons denke. Ons skynheiligheid lei daartoe dat ons net ruimte het vir ons eie sienings en blind bly vir paradigmas rondom ons. Ek soek juis na daardie paradigmas: dit is die bron van die makabere kuns wat ek maak.”
Einde 2014 het Mammes ? uitstalling van tekeninge, Triumph Prosthetics for the People, aangebied in Arts on Main in Johannesburg. Dit was ’n uitstalling van werke waarin hy ruimskoots verwys het na sy besoeke aan dié twee lande.
Die beeldetaal waarmee hy vorendag kom, is swaar belaai met historiese verwysings, soos diktatoriale figure uit die verlede, maar dan ook met verwysings na ongewone beeldelemente: prente uit mediese biblioteke in Indië, lewende fossiele soos selakante, gediertes soos hoefysterkrappe.
En saam met dié dikwels bisarre figure rank patrone welig in die agtergrond. Patrone wat hy ontleen aan Indiese filigraan en tradisionele Russiese ontwerpe. Want patrone is ’n manier om chaos te beteuel.
Wat duidelik geblyk het uit sy uitstalling Nuances in a Narrow Spectrum in Lizamore & Associates se galery in Parkwood vroeër vanjaar, is dat hy beelde gebruik “as plekhouers vir idees”. Elke prent veronderstel ? hele spektrum wat die nuanses en die veranderende toestand van die werklikheid weerspieël.
Besoek ook Mammes se webwerf by www.patterndiscord.com.
Peter Mammes, Fascism Amongst People, 2015, ink en verfkwas op argitekstekenpapier (42 x 40 cm).
Saam met Dirk Bahmann, Stephan Erasmus en Neil Nieuwoudt is Peter Mammes lid van die Dead Bunny Society, ? kunstenaarsgemeenskap wat doelwitte deel en wat mekaar en ook die werk van jonger en ander kunstenaars ondersteun.