Johan Myburg vertel meer oor die vroeë kubistiese beeldhouwerk van Pablo Picasso.
Johan Myburg
Saam met Georges Braques het Pablo Picasso skilderkuns in die rigting van die Kubisme gestuur. Maar dis Braque se kartonmodelle (as voorstudies vir sy skilderye) wat Picasso die moontlikhede van Kubistiese beeldhouwerk laat snap het.
Le courrier, 1913, ’n voorbeeld van Georges Braque se werke van geplakte papier en houtskool (510 x 570 mm). Dié werk is in die Philadelphia-kunsmuseum in die VSA.
<copy>In die November-rubriek is verwys na Picasso (1881-1973) se Kitaar van 1912 waarmee hy ’n beeldhou-revolusie ontketen het. Tot op daardie stadium was Westerse beeldhou gekenmerk aan gekerfde hout, gekapte klip of geboetseerde klei gegiet in brons.
Met sy Kitaar van plaatmetaal en draad het Picasso as’t ware meteen die Westerse benadering tot beeldhou omver gewerp. Sy beelde van hout, tin, karton, papier, tou en wat nie al nie het die kenmerke gehad van sy collages. Maar benewens dié materiale het Picasso ook bestaande voorwerpe – ook bekend as “ready-mades” en wat later byvoorbeeld in die werk van Marcel Duchamp (1887-1968) weer sou opduik – ingespan.
Pablo Picasso se Kop van ’n vrou (Fernande), 1909, gips (405 x 230 x 260 mm). Dié werk is in ’n private versameling.
In die tradisionele brons het Picasso in 1909 Kop van ’n vrou (Fernande) gemaak – ’n werk wat beskryf is as “die eerste ware Kubistiese beeldhoustuk. Die positiewe/negatiewe aspekte wat Picasso in dié beeld na vore gebring het, was die impuls wat weerklink het in die beeldhouers soos Raymond Duchamp-Villon (1876-1918) se werk. Vergelyk byvoorbeeld Duchamp-Villon se Die groot perd, 1914, brons.
Raymond Duchamp-Villon se Le grand cheval (Die groot perd), 1914, brons (1000 x 987 x 660 mm). Dié beeld is in private besit.
Meer as net ’n bevryding van tradisionele materiale en tegnieke het Picasso se benadering ook die intellektuele en konseptuele dimensie verruim. In sy beeldhouwerk het hy die outonomie bereik waarna die Kubiste gestrewe het.
In sy Stillewe met fraiings, 1914, gemaak van geverfde hout met fraiings, klou hout salami op ’n hout broodjie, ’n mes en ’n glas half vol wyn aan ’n muurrak. Daarby voltooi ’n dado-strook met trompe l’oeil wat na kerfwerk lyk en ’n stuk ougoud fraiings dié prentjie.
Dat Picasso met dié selfs kru werk wou wys hoe hy te werk gaan in die maak van ’n kunswerk, blyk duidelik. Die kreatiewe proses word eerder gewys as verberg. Die voorkoms van “onvoltooidheid” is met opset en soos in talle ander Kubistiese konstruksies gaan haal hy sy onderwerp in die alledaagse café-kultuur. ’n Tipiese werkersmiddagete word ’n kunswerk wat tred hou met Picasso se ondergrawing van “suiwer kuns”.
In 1913 is afbeeldings van vier van Picasso se konstruksies in die Franse digter en kunskritikus Guillaume Apollinaire (1880-1918) se avant-garde publikasie Les soirées de Paris gepubliseer. Lesers het hul inskrywing in protes gekanselleer en kritici was geskok oor die mindere materiale wat gebruik is en die onaf voorkoms.
Maar dit word alom aanvaar dat dié konstruksies die loop van moderne beeldhoukuns in ’n nuwe rigting gestuur het. Tot dusver was beeldhou grootliks figuratief en was die kunstenaar se hantering van en vaardigheid met marmer of hout of brons van die uiterste belang.
Hoewel Picasso volgehou het dat “daar nie iets soos abstrakte kuns bestaan nie”, het sy konstruksies die deur vir abstraksie wyd oopgegooi. Teen 1914 was Kubisme aan’t muteer en het verskillende kunstenaars verskillende betekenisse aan dié konsep geheg. Apollinaire het in 1912 al begin verwys na kuns waarin die subjek hoegnaamd nie meer saak maak nie.
Nietemin het Picasso geglo “jy moet altyd by iets (figuratief) begin”. En sy vroeë Kubistiese konstruksies het die rigting aangedui vir die werk van die Russiese beeldhouers soos Naum Gabo 1890-1977) en Wladimir Tatlin (1885-1953). Trouens, sonder Picasso kan ’n mens jou kwalik 20ste-eeuse modern beeldhou indink.