‘Ek hou daarvan om ʼn paar donkerder idees in my werk in te smokkel’
Deur JOHAN MYBURG
Einde verlede jaar het Nina Torr ‘n uitstalling in Johannesburg se In Toto-galery aangebied – saam met kleurryke beeldhouwerke in geglasuurde keramiek deur Ceramic Matters uit die ateljee van Gerhard Smart en Anthony Harris.
Toe Torr in 2013 in die einste galery werk vertoon het, was dit veral oker en diepblou wat oorheers het, werk in gouache op bord agter glas wat baie na “reverse glass”-skilder gelyk het.
Nou het sy in The End of Something na swart-wit werk in ink op papier teruggekeer. Baie soos die werk wat sy eens onder die skuilnaam Andy Wyeth gemaak het.
Torr het in 2010 haar kunsgraad aan die Parsons-ontwerpskool in New York behaal en gee sedert 2012 klas in illustrasiekuns aan die Open Window-instituut in Pretoria.
Dit was dié loopbaanskuif wat Torr se belangstelling in die rigting van illustrasiekuns gedruk het, én wat die skuilnaam genoodsaak het. “In daardie stadium het ek nie gedink dis regtig wat ek wil doen nie, so ek wou illustrasies nie met my kuns verwar nie. Ná ‘n jaar of twee het ek egter besef ek hou flippen baie van die medium en het die twee wêrelde begin versmelt en toe laat ek die skuilnaam wegval,” sê sy.
Dié “versmelting” en die “verdwyning” van Wyeth het tot gevolg gehad dat Torr se stem helderder opgeklink het – veral in tekeninge wat uit die tegnieke, kleure, style en stories put wat deel van illustrasies is; tekenwerk omdat dit vir haar die direkste manier is om visuele idees mee oor te dra. “Dit is as ’t ware die gereedskapskissie en hoe beter jy jou gereedskap ken, hoe meer word dit ‘n verlengstuk van jouself.
“Ek hou daarvan om dit in ‘n kunskonteks te plaas, want dit lyk partykeer toegankliker, wat vir ‘n mens die lekker geleentheid gee om ‘n paar donkerder idees in te smokkel.”
Torr se droë humor en kommentaar slaan in haar prente deur: op die oog af eenvoudig, maar met ‘n mirakelagtige kwaliteit. As ‘n mens dit in die kunsgeskiedenis plaas, is dit Hieronymus Bosch, Pieter Bruegel of antieke geïllustreerde manuskripte wat by ‘n mens opkom.
“Ek hou van die letterlike manier waarop baie van dié illustrasies gedoen is. Hulle mors nie tyd met metafore nie. As die Bybel sê Eva het uit Adam se rib gekom het, dan wys dit hoe sy uit hom klim. Die prente is eenvoudig, direk en toeganklik. Hulle kommunikeer ingewikkelde idees op ‘n eenvoudige manier. Ek is altyd na sulke goed op soek.
“Ek dink ek het dit van my pa [Christopher Torr] gekry. Hy sê altyd jy moet eenvoudige woorde gebruik as jy diep liedjies wil skryf. Of om dit in sy woorde te stel: “Use concrete images to convey abstract ideas.”
The End of Something verwys na ‘n herbesoek van die soort werk wat sy as Andy Wyeth gemaak het “voordat ek hulle weer wegpak”, sê sy. In dié tekeninge verken sy interne landskappe met die oog op ‘n onbekende toekoms.
Vir die toekoms het sy heelwat planne. Onmiddellik op haar lysie is deelname aan groepuitstallings in Kaapstad se 99 Loop en Salon 91. Daar is planne oor samewerkings met ander kunstenaars en ‘n reeks juwele. En dan ook nog animasie: tradisionele animasie soos onder meer stopraam-animasie. “Dit sou ek graag weer wou doen, maar dan as kunsregisseur eerder as animeerder.”
Besoek ook www.cargocollective.com/ninatorr