JOHAN MYBURG
Teen die einde van die jaar maak Standard Bank gewoonlik sy lys Jong Kunstenaars bekend wat die volgende jaar op die Nasionale Kunstefees in Grahamstad werk moet aanbied
Die 2016 Standard Bank Jong Kunstenaars is Themba Mbuli (kontemporêre dans), Siya Makuzeni (jazz), Avigail Bushakevitz (musiek), Jade Bowers (teater) en Mohau Modisakeng (visuele kunste).
Mohau Modisakeng beskryf sy multidissiplinêre werkwyse as kunstenaar as ? “huwelik van mediums”. Hoewel hy sy kunsopleiding aan die Universiteit van Kaapstad (UK) se Michaelis-kunsskool met beeldhou as hoofvak gekry het, is dit performance en die dokumentasie daarvan in foto’s en videos waarin hy die afgelope paar jaar uitblink.
Kort nadat hy in 2009 sy voorgraadse studie voltooi het, het hy in 2011 die Sasol Nuwe Handtekeninge-kunskompestisie verower met Qhatha, ‘n groot foto wat ook inhoudelik tiperend is van sy benadering tot kuns: om in tamaai-“portrette” sy eie lewe met sý belewenisse, met fisieke sowel as droomervarings, as vertrekpunt te neem. Op dié manier was sy werk van meet af biografies van aard.
Modisakeng is in 1986 in Soweto gebore en het op skool reeds sy kunsaanleg duidelik laat blyk. Watter kursus om ná skool te gaan studeer was dus nie vir hom ‘n kwessie nie.
En op universiteit was dit sy ervarings van politieke spanning in Soweto van die vroeë 1990’s wat bygedra het tot ‘n persoonlike geheue. Later het dié gebeure sy belangstelling in die uitwerking van geweld op die swart lyf en die gevolg van dié ervarings op die kollektiewe bewussyn geprikkel en gestimuleer.
Sy lyf het inderwaarheid die medium geword in sy verkenning van die invloed van Suid-Afrika se bloedige verlede en die manier waarop ons ons kulturele, politieke en sosiale rolle vertolk.
Nadat hy in 2012 sy meestersgraad aan die UK verwerf het, het hy deelgeneem aan groepuitstallings en verskeie suksesvolle solo-uitstallings, hier en in die buiteland, aangebied. Sy werk is by meer as een geleentheid op die Joburg Art Fair (JAF) uitgestal en in 2013 het hy in opdrag van die JAF ‘n nuwe videowerk vir dié kunsskou gemaak.
Sy werk is reeds vertoon op die Dak’Art-biënnale in Senegal, in Volta NY in New York en die Saatchi-galery in Londen. Verlede jaar het hy sy eerste groot uitstalling in Europa gehad – in die Kunstraum Innsbruck in Oostenryk en daarna in die Big Pond Artworks in München, Duitsland.
Dit is onmoontlik om Modisakeng se werk los te sien van die land se troebel geskiedenis, die geskiedenis van segregasie en onderdrukking en ook van die tradisieryke Zoeloe-kultuur.
Verlede jaar is sy enkelkanaalvideowerk Inzilo, 2013, ingesluit in die uitstalling What Remains Is Tomorrow in die Suid-Afrikaanse pawiljoen op die 56ste Venesiese Biënnale.
“Inzilo” is ‘n isiZulu-woord wat dui op “rou” of “vas”. In dié video is Modisakeng, geklee in ‘n swart vollengte romp, besig om in ‘n rou-ritueel iets soos as in die lug te gooi. Kom die kamera naby, lyk dit asof hy meteen ook besig is om te vervel en asof die as ook uit sy ledemate val.
Aan die een kant het die ritueel al die trekke van ‘n openbare seremonie. Nietemin kan ‘n mens nie anders nie as om bewus te raak van die innig persoonlike en geheimsinnige kwaliteit van die ritueel nie.
En nou is Modisakeng aangewys as Standard Bank se 2016 Jong Kunstenaars vir visuele kuns. Dieselfde eer wat sy beeldhoudosent en mentor aan Michaelis, Jane Alexander, in 1995 te beurt geval het.
Dié video van Rouxmour Productions bied ‘n oorsig van Mohau Modisakeng se eerste solo-uitstalling, Ditaola, in Brundyn+ in Kaapstad.
[iframe src=”https://player.vimeo.com/video/103411841″ width=”350″ height=”197″ frameborder=”0″ webkitallowfullscreen=”” mozallowfullscreen=”” allowfullscreen=””]
Mohau Modisakeng – Ditaola from Rouxmour Productions on Vimeo.
Dié gesprek tussen Thembinkosi Goniwe en Mohau Modisakeng is opgeneem tydens die 2013 Joburg Art Fair in Sandton.