In Vrouekeur (10 Oktober 2014) skryf Johan Myburg selfs meer oor die invloed van die vroegste boustene van kuns.
In dié artikel is verwys na enkele van die boustene uit die tyd voor die aanvang van die Christelike jaartelling – van die vroegste ryke van die Egiptenare, Mesopotamiërs en Grieke tot die klassieke Griekse era en dié van die Romeine, maar ook dié van die Ooste.
Talle elemente waarmee dié mense vorendag gekom het, het later jare in min of meer dieselfde gedaante, maar weliswaar in ’n ander konteks opgeduik. En duik steeds op.
Toe ontwikkelings op die terrein van bouvernuf in die vroeg 20ste eeu wolkekrabbers begin moontlik maak het, het argitektuur en ontwerp teruggeval op die monumentale stylelemente van veral ou Egipte. Die waaieragtige pluime van papirusplante en lotusblomme het in kolomme en reliëfpatrone van toringblokke reg oor die wêreld, maar veral in die 1930’s in die VSA, ‘n plek gevind.
Argeologiese ontdekkings in Egipte en veral dié van Toetankamen se graftombe, het in die laat 1920’s gelei tot ‘n herwaardering van ou Egipte.
Vergelyk die ornamentasie as deel van ’n deurkosyn van die Carbide & Carbon-gebou in Chicago. In dié voorbeeld duik die suile wat so eie is aan die Egiptiese tempelargitektuur op. Eweso die piramide, chevron-strepe en sonstraal-motiewe – soos in die bopunt van die Chrysler-gebou in New York.
Die 32 hyserdeure in die foyer van die Chrysler-gebou is gemaak van eksotiese hout, en die inlegwerk weerspieël op eerste sig die gees van antieke Egiptiese motiewe.
Eeue tevore was ’n gloed om die kop vir die Grieke en Romeine die aanduiding van ’n godheid, ’n heerser of ’n held. Soos dié mosaïek van Apollo met Helios, die son, as ’n stralekrans om sy kop.
En toe Indiese beeldhouers die godheid van die Boeddha wou aandui, het hulle besluit op basies dieselfde uitweg as dié van die klassieke Westerse tradisie.
In dié mosaïekpaneel in Ravenna, Italië, en wat dateer van om en by 500, dra Christus nie net ’n keiserlike purper pallium (mantel) nie, maar het hy ook die stralekrans wat nie vir almal beskore was nie – net vir gode en mense ná aan gode.
Niks is nuut nie, en as ’n mens die wêreld rondom jou oopoog betrag, snap jy dat ons voortdurend bly put uit dieselfde bron. Ons herinterpreteer dalk. Maar werklik oorspronklik, is ons nie.