Vinnige feite oor die Mona Lisa, die Louvre, Leonardo en waar dié kunstenaar se befaamde skildery hang
Omdat die Mona Lisa een van die wêreld se bekendste en herkenbaarste skilderye is, verwag besoekers aan die Louvre in Parys dikwels ‘n tamaai skildery. En hulle is bitter teleurgesteld as hulle op dié klein skilderytjie afkom.
Dit is nou dié wat daarin kan slaag om naby genoeg aan dié Florentynse vrou te kom. Die saal in die Denon-vleuel waar dié meesterstuk van Leonardo Da Vinci hang, is dikwels só vol toeriste dat ‘n mens die Mona Lisa slegs kortliks en op ‘n afstand te sien kry.
Leonardo se portret van Lisa Gherardini, vrou van Francesco del Giocondo, sakeman van Florence, en bekend as die Mona Lisa en in Italiaans as La Gioconda, is maar ‘n skrale 77 × 53 cm groot. En boonop word dit vertoon agter dik veiligheidglas én daar is sensors wat verhinder dat ‘n mens enigsins naby die skildery kan kom.
Verstaanbaar dat die Mona Lisa vir baie besoekers ‘n reuse-teleurstelling is.
Nietemin is dié skildery een van die belangrikste Westerse kunsskatte. En as jy wil weet wat dié skildery werd is, gaan jy gewoon hoor dat dit onbekostigbaar is. Die Mona Lisa het volgens die Guinness World Records wel die hoogste versekeringswaarde van alle kunswerke ter wêreld. In 1962 is dit gewaardeer vir 100 miljoen dollar en as jy inflasie inreken, kan jy jou voorstel dit moet nou al aansienlik meer wees.
Dit is in elk geval nie ‘n skildery wat op die mark sal kom nie. Die Mona Lisa is sedert 1797 in besit van die Louvre en word permanent in dié kunsmuseum vertoon.
Leonardo het vermoedelik in 1503 aan die portret begin werk en dit nooit voltooi nie. In 1516, toe hy van Italië na Frankryk is, het hy die portret met hom saamgeneem. Kort daarna is dit in die Versailles-versameling opgeneem.
Ná die Franse Revolusie is dit na die Louvre, waar dit gehang het tot Napoleon dit in sy slaap- en later badkamer gehang het – waar dit waterskade opgedoen het. Die portret is na dié uitstappie terug na die Louvre.
In 1956 het ’n man suur op die onderste deel uitgegooi toe dit in Montauban, Frankryk, vertoon is. In Desember van daardie jaar het ’n man ’n klip na die skildery gegooi, wat ’n merk onder die linkerelmboog gelaat het.
Vandaar die veiligheidsglas en die sensors. En die besluit dat dié portret, geskilder op ‘n populierplank van 10 cm dik, nie weer die Louvre sal verlaat nie.
Leonardo
Leonardo, gebore naby Vinci in die Florentynse republiek in 1452, was benewens skilder en beeldhouer onder meer ook argitek, ingenieur en ontwerper – kortom die beliggaming van die Renaissance-ideaal. Die laaste Avondmaal is nog ‘n bekende skildery van dié kunstenaar wat in 1519 in Frankryk dood is.
Die Louvre in Parys met die glaspiramide, ontwerp deur IM Pei, in die voorgrond.
Louvre
‘n Enkele besoek aan die Louvre is net genoeg om jou ‘n aanduiding te gee van wat jy nié gesien het nie. Die versameling is omvangryk en sluit werk in wat verteenwoordigend is van die ganse Westerse kunsgeskiedenis.
As jou tyd in Parys uiters beperk is, is die Louvre se drie vroue dalk ‘n moontlikheid: Venus de Milo, Nike van Samotrache en Mona Lisa. Oorweeg ook ‘n begeleide toer. Besoek die webwerf www.louvre.fr/en.
As jy meer tyd het, kan jy ook ‘n besoek oorweeg aan die Musee d’Orsay skuins oorkant die Seine (www.musee-orsay.fr/en).
Aphrodite van Milos, beter bekend as Venus de Milo, is ‘n marmerbeeld wat dateer van tussen 130 en 100 vC. Dié beeldhouwerk vergestalt die Griekse godin van liefde en skoonheid (Venus vir die Romeine).