Of Darkness and of Light, ‘n midloopbaan-uitstalling wat ‘n oorsig bied van die werk van die Johannesburgse kunstenaar Minnette Vári, is van Januarie tot Maart in die Standard Bank-galery in Johannesburg aangebied. Vári se werk is al vertoon in Swede, België, Switserland, Italië, op die Venesiese Biënnale, in New York se die Museum of African Art en op die eerste biënnale in Sevilla, Spanje. Aan die hand van dié jongste uitstalling het Johan Myburg oor elemente van haar werk besin.
Johan Myburg
Gekapte klip het gewis kwaliteite wat dit geskik maak vir beeldhou. Dis monumentaal, heroïes, stabiel en het die moontlikheid om ? ewigheid te oorleef. Maar dis eweneens dié kwaliteite wat beeldbestormers deur die eeue na hamers laat gryp het – omdat ‘n bepaalde ideologie eweneens monumentaal en heroïes in klip vergestalt kan word.
Destruksie sou dit wees: Om ‘n slagboor onder die neus van ‘n antieke Assiriese lamassu in Sirië in te druk in die naam van ‘n “ander ideologie”. Om die hamer te laat smak teen die marmer van ‘n Maria-beeld in ‘n kapel in die tyd van die Hervorming van die 16de eeu. Om twee voorbeelde te noem.
Daar is egter meer kreatiewe maniere om ideologie te ontsetel. Moeisamer dalk, maar met ‘n magdom moontlikhede.
As kunstenaar wat die dramatiese gebeure van haar tyd registreer het Minnette Vári onder meer met die klip van die verlede moes afreken. Met ‘n monolitiese geskiedskrywing. Hoewel ‘n mens dit dekonstruksie sou kon noem, of revisionisme, het sy jare gelede in ‘n onderhoud dié proses ‘n poging om “gekapte klip liquid te maak” genoem. En dit doen sy by uitstek met die filmiese en plastiese medium van video.
Aan die koue fries in die Voortrekkermonument se Heldesaal, dié een met die 27 marmerpanele waarin taferele uit die Groot Trek verbeeld word, gee Vári in Chimera (2001) ‘n interpretasie wat lyfwarm asemhaal. Sy projekteer beeldmateriaal uit dié panele op dun wit lap wat van die plafon af hang, wat deursigtig is en kan vou en plooi. Iets wat Quercetta-marmer van bykans 200 ton nie kan doen nie.
Met ‘n videokamera in die hand en ‘n mikrofoon wat die klanke daar en dan in die Heldesaal opneem, het sy dié 92-meter lange fries verfilm vir Chimera, ‘n werk wat sy titel kry uit die Griekse mitologie. Die chimera is die Griekse weergawe van die lamassu, ‘n gedierte met die lyf van ‘n bok, die kop van ‘n leeu en as stert ‘n slang met ‘n kop aan die end. Verfilm in die gedaante van die chimera muteer Varí tussen vorme in die fries. En dis waar klip “liquid” word. Maar bowenal bly sy buite die geskiedskrywing. Sy kom eerder uit die skadu’s, uit die hiate in die geskiedenis en lewer uit die donkerte en eweso die lig, as buitestander, kommentaar op die oënskynlik monumentale, heroïese en stabiele. En luiste ‘n mens mooi na die klankbaan, sluip kommentaar van besoekers op dieselfde dag as wat sy haar opname gedoen het, in.
Daarenteen lyf sy haar letterlik in ‘n werk soos Alien (1998) in nuusberigte oor sake en retoriek waarvan sy verwyderd voel. In dié geval is haar naakte lyf voorop – maar dan gedissekteer, ontleed, digitaal uitgesny, geknip en dan ingevoeg in herkenbare fotomateriaal uit die jare kort voor die einde van apartheid.
Minnette Vári s in 1968 gebore. Sy het aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en woon en werk in Johannesburg.
In haar video’s en tekeninge – waarin sy dikwels haar eie lyf gebruik in verskeie vorms van metamorfose – takel sy aspekte soos geskiedenis, identiteit en ‘n plek in ‘n samelewing.
Haar werk is ingesluit in openbare versamelings soos dié van die Johannesburg Kunsmuseum, die museum vir hedendaagse kuns in Antwerpen, België, die kunsmuseum in Luzern asook die Zürich Versicherung in Switzerland.
Besoek Vári se webwerf by www.minnettevari.com vir nog inligting.
Kyk na ‘n uittreksel uit ‘n video waarin Minnette Vári oor haar werk praat. Die dokumentêr is gemaak deur Thorolf Lipp en Tobias Wendl.
[iframe width=”560″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/IWHJCDeUq7U” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]