Ernst se skilderye was nogal omstrede, veral dié waarin hy die Rooms-Katolisisme bevraagteken het
Johan Myburg
“Op 1 Augustus 1914 is M.E. (Max Ernst) dood. Hy het weer lewend geword op 11 November 1918 as ? jong man wat daarna gestreef het om die mites van sy tyd te vind.” Dis hoe Max Ernst (1891-1976) in sy outobiografie beskryf hoe hy as 23-jarige die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog beleef het. Twee Duitse ekspressioniste en tydgenote van Ernst, Franz Marc (1880-1916) en sy goeie vriend August Macke (1887-1914), het op die slagveld gesneuwel.
In dié oorlog was Ernst verplig om in die Duitse artillerie-divisie te veg en ná die trauma wat hy in die oorlog ervaar het, was hy des te meer oortuig dat die moderne wêreld irrasioneel was – ‘n idee wat die grondslag vir sy kuns geword het. In dié opsig was Ernst ‘n baanbreker vir Dada sowel as vir die Surrealisme.
Ernst se na-oorlogse collage-werke weerspieël die etos van Dada in uitdagende, humoristiese en onlogiese samestellings waarin hy onverwante prente uit tydskrifte gebruik, die oorspronklike betekenis verdoesel en ‘n nuwe spel van verwysings tot stand bring – ‘n wêreld van drome en fantasie.
Sigmund Freud se Die Traumdeutung (vertaal as The Intepretation of Dreams) het in 1899 verskyn en Ernst was een van die eerste kunstenaars om Freud te gebruik in sy ondersoek na die bron van sy eie kreatiwiteit. Maar saam met sy fokus op sy eie binnewêreld het Ernst ook die deur oopgesluit na die rol van die onderbewussyn in die alledaagse lewe.
In 1922 is Ernst Parys toe waar André Breton twee jaar later sy manifes vir die Surrealisme sou opstel, en in 1923 het hy Les hommes n’en sauront rien (Mense sal hiervan niks weet nie) gemaak, die kunswerk wat alom beskou word as die eerste Surrealistiese skildery. Op die agterkant van die skildery het Ernst geskryf: “Wat opval in die skildery is die simmetrie. Die twee geslagte balanseer mekaar.”
Die gedagte bestaan dat die skildery geïnspireer kan wees deur Freud se studie van die paranoïese pasiënt Daniel Paul Schreber en dat die twee paar bene kan verwys na Schreber se hermafroditiese begeertes.
Ernst se skilderye was nogal omstrede, veral dié waarin hy die Rooms-Katolisisme waarmee hy grootgeword het, bevraagteken het. In The Blessed Virgin Chastises the Infant Jesus Before Three Witnesses: A.B., P.E. and the Artist van 1926 tree hy in gesprek met die Florentynse skilder Parmigianino (1503-1540) se Madonna col collo lungo (Madonna met die lang nek).
Dié parodie herinner ook aan Marcel Duchamp se L.H.O.O.Q. na aanleiding van Leonardo da Vinci se Mona Lisa.
Ernst se streng opvoeding – sy pa was ‘n besonder rigiede man – het gelei tot sy bevraagtekening en verwerping van gesag. Toe sy suster se dood toegeskryf is aan goddelike bestiering, het Ernst sy pa, as verteenwoordiger van dié siening, vir haar dood verantwoordelik gehou.
In die plek van Parmigianino se ses engele wat die Madonna dophou, stel Ernst die kyker voor aan André Breton, Paul Eluard en homself wat bra onbelangstellend kennis neem van dié huishoudelike tafereeltjie. Daarmee lewer hy nie net kommentaar op die talle liefdevolle uitbeeldings van Maria en Jesus nie, maar ook die bourgeois heiligheid van moederskap. Nie almal het die humor in die werk gesien nie en dié skildery is veroordeel as ‘n aanval op die Christendom en morele waardes.
Wat verder opval in dié skildery is die verwysing na Giorgio de Chirico se argitektuur met droom-perspektiewe. Die feit dat ‘n mens die struktuur logies kan plaas, dra by tot die ongemaklike gegewe in die skildery.
Kyk na ‘n program, aangebied deur Julian Stallabrass, oor een van Max Ernst se bekendste skilderye, Celebes van 1921. Dié werk is in Tate Britain in Londen.
[iframe width=”560″ height=”315″ src=”https://www.youtube.com/embed/5H39e_iYZqE” frameborder=”0″ allowfullscreen=””]