Waar uitstallings voorheen tematies op grond van “kunsbewegings” afgebaken is, is die neiging nou om kunswerke eerder in ’n groter historiese verband te vertoon
Johan Myburg
Geskool in ’n tradisie van kunsmatige en akademiese kategorisering van kuns, het die mense wat die trom slaan in kunsmuseums dié benadering voorheen klakkeloos gevolg. Die uiteinde was gefragmenteerde voorstellings met ’n laslappieblik op museumversamelings – versamelings waarvan die grootste gedeelte gewoonlik in ’n kelder geberg is. Boonop het dié versamelings voorheen kwalik uit die stoorplekke gekom omdat talle museums tred probeer hou het met wat in die wêreld van kontemporêre kuns gebeur, ten koste van ouer versamelstukke.
Verlede jaar het Penelope Curtis, direkteur van Londen se Tate Britain, met ’n herorganisering van dié museum se uitstallings vorendag gekom, ná opknapping en aanbouing van sowat R780 miljoen aan die gebou in Millbank. In 20 uitstallokale het sy 500 kunswerke – skilderye, tekeninge en beelde – in chronologiese volgorde, van die 16de tot die 21ste eeu, aangebied.
In ’n onderhoud het Curtis verlede jaar gesê sy verkies om nie aan kunsbewegings te dink nie omdat kunstenaars dit nie doen wanneer hulle kuns maak nie.
Tate Britain is in die media geloof vir dié “triomfantlike stap” om kuns deel van ’n groter bewussyn van geskiedenis te maak.
Curtis is onder meer geprys vir haar durf om “kunsgeskiedenis weer aan te bied soos wat dit was voordat dit deur akademici gekaap is”.
Sy het egter die wind ook van voor gekry en ’n prominente Britse kunskritikus het onlangs aangedring dat sy bedank – onder meer omdat die besoekertalle van dié museum aan ’t afneem het.
Voete oor die drempel bly vir enige openbare kunsmuseum immers die belangrikste aanduiding van sukses.
Aan die ander kant van die Engelse kanaal is die sowat R290 miljoen-opknapping van die Van Gogh-museum in Amsterdam pas afgehandel en die werk van dié Nederlandse meester is ook oor gehang. Dié museum lok jaarliks – naas die Rijksmuseum ’n ent straatop – van alle Nederlandse museums die meeste besoekers.
Die oorspronklike museum, wat in 1973 geopen is, is volgens die 1963/4-ontwerp van Gerrit Rietveld gebou. In 1999 is die uitstallingsvleuel, deur Kisho Kurokawa ontwerp, aangebou.
Volgens Rietveld se modernistiese visie met nadruk op geometriese vorms het die ligte, oop en spierwit uitstalruimtes sin gemaak. Een van die ingrypendste veranderings is nou die sterk tinte waarin die galerye geverf is: ’n diepgrys vir die vroeë Nederlandse skilderye en ’n briljante blou vir die Provence-werke.
Voorheen is die museum se sowat 100 Van Goghs op die eerste vloer van die museum uitgestal. Nou is dié werke oor al vier vloere versprei en hang dié skilderye in samehang met werk van ander kunstenaars – tydgenote, dié wat hom beïnvloed het en dié wat deur hom beïnvloed is.
Met dié benadering wil Axel Rüger, direkteur van die Van Gogh-museum, meer as net die skilderye vertoon. “Die nadruk is nou op die verhaal van Van Gogh, wie hy was en wat hom besiel het,” sê hy. Daarom is tekeninge, briewe en besondere artefakte – soos die vaas wat Van Gogh in een van die blommestudies gebruik het – ook deel van die uitstalling.
Sulke benaderings kan besoekers help om iets van ’n geheelblik te kry – nie net op die kunsgeskiedenis of die werk van ’n enkele kunstenaar nie, maar op die gefragmenteerde wêreld waarin ons woon.
(hooffoto)
‘n Blik op die nuwe inrigting van die Van Gogh-museum in Amsterdam.
Foto: Van Gogh-museum