Johan Myburg skryf oor ‘n nuwe museum vir kontemporêre kuns in Kaapstad
Johan Myburg
Dié kolos wat uit 1921 dateer, word tans getransformeer tot die nuwe Zeitz-museum vir kontemporêre Afrika-kuns, kortweg bekend as MOCAA.
Die kunsversameling van die Duitser Jochen Zeitz, ’n voormalige voorsitter van Puma en nou die direkteur van Kering, word wyd erken as die beduidendste versameling kontemporêre kuns van Afrika en die Diaspora en vorm die basis van die museum se versameling.
MOCAA, ‘n R500 miljoen-projek wat die V&A Waterfront en Zeitz saam aanpak, open in November 2016.
Thomas Heatherwick, die 44-jarige Britse argitek wat al meermale vir sy werk vereer is, onder meer met ’n eregenootskap van die Royal College of Art en eredoktorsgrade van die universiteite van Dundee, Brighton, Sheffield en Manchester, se plan met die silo is om nie van die gebou se nywerheidsverlede terug te deins nie, maar dit juis te beklemtoon.
In die middel van die gebou, wat nege verdiepings hoog staan, word ’n elliptiese snit gemaak. Dié ruimte kry ‘n glasdak en word die museum se ingangsatrium.
Van die silinders word as hysbakskagte, wenteltrappe tussen die sowat 80 uitstallokale, opvoedkundige ruimtes, ’n beeldhou-daktuin en ruimte vir bergings- en bewaringsgeriewe gebruik.
Van die totale vloeroppervlakte van sowat 9 500 m² op nege verdiepings sal 6 000 m² as uitstalruimte benut word.
Etlike lae verf sal van die fasade verwyder word om die rou beton van die suile te ontbloot. Vensters word van “bultende, deurskynende kussings” gemaak. Heatherwick werk saam met die plaaslike ondernemings Van der Merwe Miszewski, Rick Brown-vennote en Jacobs Parker aan dié projek.
Zeitz aanvaar verantwoordelikheid vir die museum se lopende uitgawes en ’n aanwinsbegroting om te verseker dat die versameling toonaangewend bly. Die versameling wat oor jare opgebou is, sluit werk van Suid-Afrikaans gebore kunstenaars soos Marlene Dumas, Nicholas Hlobo, Nadipha Mntambo en Andrew Putter in, maar ook die werk van vooraanstaande kunstenaars van Afrika-afkoms soos Kudzanai Chiurai, Owusu-Ankomah, Rashid Johnson, Isaac Julien, Glenn Ligon, Julie Mehretu, Wangechi Mutu, Chris Ofili, Kehinde Wiley en Hank Willis Thomas.
Mark Coetzee, voorheen direkteur van die Rubell-versameling en daarna hoofkurator van puma.creative, is as MOCAA se uitvoerende hoof en hoofkurator aangestel. Hy het aan die universiteite van Stellenbosch en Kaapstad en die Sorbonne in Parys studeer.
Voor sy betrokkenheid by Puma was hy adjunk-kurator van die Palm Springs-kunsmuseum in Miami in die VSA.
Coetzee het verlede jaar 85 kunswerke vir die Zeitz-versameling op die 55ste Venesiese Biënnale aangekoop, onder meer drie groot beeldhouwerke van die Zimbabwiese kunstenaar Michele Mathison, foto’s van die Kaapstadse kunstenaar Zanele Muholi asook van Edson Chagas, ‘n Angolese kunstenaar.
Besoekers aan die Waterfront het reeds toegang tot tydelike uitstallings uit die Zeitz-versameling in die MOCAA Pavilion. Onlangs was die uitstalling Looking Back met werk van Zanele Muholi, Andrew Putter en Yinka Shonibare daar te sien. Tot en met Februarie word altesaam 63 werke van Kudzanai Chiurai afwisselend vertoon.
(hooffoto)
‘n Argiteksvoorstelling van die elliptiese snit in die silinders wat die ingangsatrium vir die nuwe museum vir kontemporêre Afrika-kuns (MOCAA) op die Kaapstadse Waterfront vorm.