Johan Myburg skryf oor die werk van die Suid-Afrikaanse kunstenaar Diane Victor
Johan Myburg
Maar benewens dié onmiddellike nuuswaarde is daar verskeie aspekte van haar kuns wat haar bekendheid bepaal.
Allereers is sy as tekenkunstenaar bekend; as iemand vir wie lyn meer gewig dra as kleur. Maar dan lyn in sy wydste betekenis: of die medium nou houtskool, potlood, kersvlamrook, verpoeierde grond of braaivleisvuurhoutskoolstof is.
Dis dalk juis haar onkonvensionele omgang met lyn wat haar so ’n besonderse plek in die Suid-Afrikaanse kunswêreld gee.
Sy teken op velle papier, maar eweneens op glas. Tussen twee plate glas vang sy efemere rook in taferele vas met aweregse verwysings na sakrale gebrandskilderde glas.
In haar etswerk is dit eweneens haar tekenvermoë wat die deurslag gee. Maar dié grafiese drukwerkmedium het sy ver buite die stereotipe verruim: ten opsigte van skaal sowel as tegniese uitdagings. Die beperkings wat ’n etspers bied, oorkom sy deur meer as een vel papier, dikwels so wyd as 120 cm, te gebruik. Tegniese beperkings vuur haar aan om te eksperimenteer – soos die geval was met embossering en veral akwatint.
Hoewel Victor se tegniese meesterskap onmiskenbaar is, is dit haar eiesoortige beeldetaal en dikwels die uitbeelding van ongemaklike onderwerpe wat kunsliefhebbers so fassineer. Nêrens is dié taal so herkenbaar nie as in haar voortgaande etsreeks Disasters of Peace.
Die titel is ’n verwysing na en ’n spel op Francisco Goya se Los desastres de la guerra (die rampe van oorlog), die befaamde etsreeks waarin hy onmenslike wreedhede van oorlogvoering – aan die kant van die Franse sowel as die Spanjaarde – in die vroeë 19de eeu uitbeeld.
Dié reeks etse in kleiner formaat, deurgaans 28 cm x 32 cm, waarmee sy in 2001 begin het, sluit in meer as net die titel by die werk van Goya aan. Soos haar Spaanse voorganger, lewer sy kommentaar op die rampspoedige geaardheid van die mens, maar wel met dié verskil dat sy meen mense het nie oorlog nodig om gemene wreedhede te pleeg nie.
In ’n onderhoud het Victor in 2006 opgemerk dat dié reeks haar manier is om dié goed in die samelewing wat haar ontstel, te verwerk. “Of dit nou vergrype is, of verkragting. My werk is ’n manier om skoon te kom. Noem dit katarsis, as jy wil.”
In Why Defy, een van die eerste etse in die Disasters-reeks, verwys Victor byvoorbeeld na ’n bendeverkragting waartydens die slagoffer se gesig met ’n elektriese strykyster gebrand is. Made to Measure is ’n skrikwekkend grafiese uitbeelding van kinderverkragting, en ander werke in die reeks verwys na misdaad en gesinsgeweld, plaasmoorde, padongelukke en korrupsie.
Sou dié werke die kyker ontstel en straks ontstemd laat, is Victor daarvan oortuig dat haar werk “effektief gekommunikeer” het. Want dit is wat sy in die oog het. “Ek is lugtig vir gemak. Kuns moet ’n mens voorturend ongemaklik kan maak.”
En dit doen Diane Victor se werk deurgaans.
Nietemin is sy nie ’n pessimis nie. Daarvoor is sy ver te briljant. Dikwels slaan humor, hoewel wrang, deur en temper die ongemaklikheid. En gun die kyker ’n blaaskans voor die volgende hou in die maag volg.
Why Defy, ets en akwatint (28 x 32 cm), een van die werke uit Diane Victor se voortgaande reeks Disasters of Peace.
(hooffoto)
Diane Victor