Johan Myburg skryf oor die werk van die Suid-Afrikaanse kunstenaar Johannes Meintjes (1923-1980)
Johan Myburg
Berman meen die ‘warmte waarmee sy werk ontvang is’, was verrassend, juis omdat Meintjes se werk van meet af aan nie konformisties was nie. Sy aansluiting het hy gevind in die kleurgebruik van Irma Stern en die komposisie van Maggie Laubser.
In resensies is hy ná dié eerste uitstalling vir sy talent, kleurgebruik en komposisie, maar ook vir sy sensitiwiteit en vir die droomkwaliteit van sy werk geloof.
Miskien is dit sy gebruik van poëtiese metafore (onder meer dié van perde, lelies, die maan, van jongelinge met swaar ooglede) en onderspeelde (homo)erotiek wat ’n mens ’n brug laat slaan tussen die skilderwerk van Meintjes en die verse van die Spaanse digter Federico García Lorca. Of dalk is dit die gevoel van surrealiteit wat die werk van albei dié kunstenaars kenmerk. Of die verbeelding wat so vreesloos in hul werk gestalte kry.
Dis dié magiese omtowering van ’n landskap of die konteks waarbinne hy figure plaas wat aan Meintjes se werk so ’n besonderse intimiteit verleen.
Op hoërskool in die Kaap het Meintjes kunsklasse geneem, maar ná skool het hy in die letterkunde aan die Universiteit van Kaapstad gaan studeer. Hoewel Meintjes hom mettertyd as skrywer gevestig het met sowat 35 boeke (nie-fiksie sowel as fiksie) op sy naam, is dit sy skilderye waarvoor hy onthou word.
In 1945 het hy werke in Kaapstad vertoon, kort daarna weer in Johannesburg en teen die einde van daardie jaar het hy na Londen vertrek. Met sy terugkeer in 1947 het hy ’n tweede keer in Kaapstad uitgestal en is weer groot lof toegeswaai.
In 1949 het hy op die familieplaas naby Molteno in die Oos-Kaap gaan woon, geskryf en geskilder. In die 1950’s en 1960’s het hy werk in heelparty solo-uitstallings asook in groeptentoonstellings vertoon, onder meer saam met Gordon Vorster, Cecily Sash en Dirk Meerkotter.
In 1972 het hy die tweede deel van sy outobiografie, Dagboek 2, gepubliseer nadat die eerste deel in 1955 verskyn het. Dagboek 3 het in 1975 verskyn. Meintjes se dagboeke – soos die meeste van sy skryfwerk gereken as Africana – bied insig nie net in sy eie skilderwerk nie, maar ook in dié van sy tydgenote.
Om met sy 50ste verjaardag saam te val het hy in 1973 ’n uitstalling in Johannesburg aangebied, sy laaste in dié stad.
Meintjes is in 1980 op 57 op sy plaas Grootzeekoegat in die Molteno-distrik dood.
Die Johannes Meintjes-kamer is in 1986 by die Hoërskool Molteno geopen waar ’n permanente versameling van die kunstenaar se werk uitgestal word.
Die destydse Randse Afrikaanse Universiteit in Johannesburg het tien jaar ná sy dood, in 1990, ’n oorsiguitstalling van Meintjes se werk aangebied.
Kyk ’n mens nou terug op Meintjes se portrette, wat feitlik almal op die een of ander manier na die kunstenaar lyk, val iets van ’n generiese jeugdigheid ’n mens op, asof die subjek in die portrette in ’n vervloë wêreld vasgevang sit.
Besoek ook die webwerf www.johannes-meintjes.co.za.
(hooffoto)
Selfportret met sigaret, 1954, in olie op bord (330 mm x 310 mm), ’n skildery van Johannes Meintjes. Dié werk is in die Sanlam-kunsversameling opgeneem.