Johan Myburg skryf oor die werk van die Suid-Afrikaanse kunstenaar Judith Mason
Johan Myburg
Vyftig jaar later is Mason steeds aan’t kuns maak – skilderye sowel as grafiese drukwerk, hoofsaaklik van diere en mensfigure of fragmente daarvan in haar kenmerkende sober lynwerk en kleurgebruik. En 50 jaar later verwag sy steeds van ’n kunswerk om meer as “mooi” te wees. “’n Kunswerk moet iets dringends in hom ronddra,” glo sy. “Soos die dringendheid van ’n telegram.”
In 2008, met haar 70ste verjaardag, is ’n oorsiguitstalling, A Prospect of Icons, vir dié besondere kunstenaar in die Standard Bank-galery in Johannesburg aangebied. ’n Uitstalling met 89 werke wat, soos die titel aandui, haar gebruik van spesifieke beelde (ikonografie) weerspieël: elemente so uiteenlopend soos selfportrette, ogiesdraad en vlerke, goed soos wildehonde en hiënas, maar binne Mason se kuns gesnoer tot ’n hegte geheel.
Dié uitstalling het ook die driedelige 2006-opdragwerk, Walking With and Away from Dante, ingesluit: ’n Werk wat dalk iets weergee van haar kunstenaarskap.
“Dis asof ek die reis saam met Dante en Vergilius (in Die goddelike komedie) begin, maar dan my eie koers inslaan, die geloofloosheid van die 21ste eeu in. Dit veroorsaak spanning tussen Dante se koherente blik op die werklikheid en my eie gedisintegreerde werklikheidsbeskouing.”
In ’n ontredderde laat-20ste en vroeg-21ste eeu besit Mason voelhorings waarmee sy haar tyd lees en weergee. Met omsigtigheid, wat nie met skroomvoetigheid verwar moet word nie, registreer sy benewens die skade wat mense aan mekaar kan aanrig ook die kwaliteite wat die goedheid in mense wys – soveel te meer waar onreg en kwaad ter sprake kom.
In die konstitusionele hof in Braamfontein in Johannesburg hang een van die duidelikste getuienisse hiervan. Dié driedelige The Man who Sang and the Woman who Kept Silent (1998), twee olieverfwerke weerskante van ’n plastiekrok aan ’n hanger, het Mason gemaak na aanleiding van twee verhale waarvan sy op die radio gehoor het ten tye van die Waarheids- en Versoeningskommissie.
In die troebel jare was Mason uitgesproke, “a lefty loud-mouth”, soos sy sê. Nietemin het sy Suid-Afrika verteenwoordig op toonaangewende geleenthede soos die Venesiese Biënnale in Italië en die Sao Paulo Biënnale in Brasilië.
In 1991 het sy teruggekeer na Suid-Afrika nadat sy ’n ruk in die Italiaanse stad Florence gewoon en klasgegee het.
Sy het haar ná haar terugkeer eers in Kaapstad gevestig en besluit om minder uit te stal. Deesdae doen sy dit by uitsondering onder meer in Gallery AOP in Johannesburg en die East End Gallery, East Hampton, New York.
Haar jongste uitstalling, vroeër vanjaar in Gallery AOP, het tong-in-die-kies geheet It’s All About Me, ’n uitstalling met tekeninge waarin selfportrette aan die orde van die dag is, maar verdoesel met maskers en matelose verwysings uit haar ikonografiese woordeskat.
Mason woon nou naby Witrivier in die Laeveld – uit die oog en buite die kunskringloop. “Ek het so ‘n bietjie ’n kluisenaar begin raak,” gee sy skalks toe. “Maar ek verkies dit so. Ek hou in elk geval nie soveel daarvan om na kuns te kyk nie. Vir my gaan dit oor die maak van kuns. Dis wat ek wil doen.”
Oor ouer word, merk sy op: “Met sterflikheid reken ’n mens in jou middeljare af. As jy ouer word, reken jy gaandeweg af met al wat ’n danigheid is.”
Judith Mason se driedelige werk The Man Who Sang and the Woman Who Kept Silent: links in olie op doek (166 x 122 cm), in die middel die installasie (200 x 70 x 45 cm) en regs in olie op doek (190 x 160 cm), 1998. Dié werk is in die versameling van die konstitusionele hof in Johannesburg. Kopiereg: Judith Mason.