Johan Myburg skryf oor ’n werk van die Engelse skilder John Everett Millais (1829-1896), ’n lid van die Pre-Rafaelitiese Broederskap
Johan Myburg
In 1848 het drie Engelse kunstenaars, John Everett Millais, William Holman Hunt en Dante Gabriel Rossetti, met die vorming van hul Pre-Rafaelitiese Broederskap ‘n duidelike aanduiding van hul sentimente gegee: Hulle wou teruggryp na ’n benadering tot kuns vóór dié van Rafael (1483–1520).
Die kunsbenadering wat hulle wou nastreef, was geskoei op die eerlike weergawe van die natuur in die fynste besonderhede.
Die gestileerdheid van die Maniërisme wat net ná Rafael skilder- en beeldhoukuns begin oorwoeker het, wou dié broederskap bestry. Die Maniërisme wou juis met behulp van kunsmatigheid die komposisie van die werk in plaas van die natuurlike kwaliteite beklemtoon.
Met dít in gedagte wou die Pre-Rafaeliete die natuur fyn dophou, voortbou op egte kunsuitings uit die verlede en les bes outentieke werk van hoë gehalte lewer.
John Ruskin, die befaamde Victoriaanse kunskritikus, het sy steun aan die Pre-Rafaeliete toegesê en die beweging daarmee ’n besonderse hupstoot gegee. Maar ’n ander reus van dié tyd, die skrywer Charles Dickens, se taksering van Millais se skildery Christ in the House of His Parents, 1849-50, het tot ’n openbare meningsverskil bygedra. Daar was mense wat gemeen het die werk is godslasterlik.
Volgens Dickens lyk Christus se gesin in Millais se skildery na dronklappe en agtertangse mense. Hy het ook kritiek gehad op die absurde “Middeleeuse” voorstelling van figure. Maria, so het Dickens gesê, sal in enige geselskap as ’n monster uitstaan …
Maar die grootste kritiek teen Millais se skildery was die realistiese voorstelling: die uitbeelding van die skrynwerkerswinkel met skaafsels op die grond was in skrille kontras met die tradisionele uitbeeldings van Jesus in geïdealiseerde omgewings. Josef se vuil vingernaels was net té letterlik vir die Victoriaanse smaak.
Hoewel Millais dié tafereel in Josef se werkswinkel met louter natuurlikheid bejeën, het sy skildery ’n magdom metafore en teologiese verwysings.
Josef is besig om ’n deur te maak en in die proses het die klein rooikop-Jesus sy hand met ’n spyker gesny (’n verwysing na die kruisiging). Ouma Anna is besig om die spyker met ’n knyptang te verwyder, Maria en Josef gee aandag aan die gewonde hand, en die jong Johannes die Doper kom nader met water om die hand te was (’n verwysing na die doop van Jesus).
Aan die linkerkant is ’n handlanger besig om Josef te help (straks ’n verwysing na ’n latere apostel). Maar Millais bou ook meer verwysings in sy skildery in: daar is onder meer die verwysing na die Drie-eenheid in die driehoek agter Jesus se kop teen die muur, die Heilige Gees as duif en Christus se uiteindelike kudde op die agtergrond.
Die idee vir sy skildery het Millais waarskynlik gekry van Le raboteur, ’n skildery van Annibale Carracci (1560-1609) wat in 1851 in Londen vertoon is.
As daar een ding is wat duidelik uit Millais se Christ in the House of His Parents spruit, is dit die tweespalt tussen wat die kunstenaar uitbeeld en die openbare verwagting van wat kuns moet wees. Dié gaping het ná Millais nie kleiner geword nie.
(Hooffoto)
John Everett Millais se skildery Christ in the House of His Parents, 1849-50. Dié werk is in die versameling van die Tate in Londen.