Johan Myburg skryf oor die werk van die Duitse kunstenaar Caspar David Friedrich (1774-1840)
Johan Myburg
Nêrens is dié ontwikkeling so duidelik nie as in die 1818-skildery van Caspar David Friedrich, dié van ’n wandelaar bokant ’n see van mis: Der Wanderer über dem Nebelmeer.
Waar die reisiger van die 18de eeu wou uitgaan om die eksotiese onbekende te ontdek, het die wandelaar (die Duits kan ook vertaal word as voetslaner) teen die einde van dié eeu eerder ’n reis na binne begin onderneem. En skilderye van landskappe was nie meer beskrywings van plekke nie, maar eerder van die mens se gemoed.
Friedrich se skilderye – soos dié van ’n murasie in ’n eikewoud (Abtei im Eichwald, 1809/10) en ’n see van ys (Das Eismeer, 1824) – verbeeld afgeleë en onherbergsame plekke, dikwels in skemerlig teen dagbreek, sononder of in die maanlig. As daar sprake van figure is, is dit eensame skepsels in silhoeët met die rug na die kyker, die sogenaamde Rückenfigur-tegniek.
Der Wanderer verbeeld so ’n enkeling in ’n donkergroen baadjie en met ’n wandelstok, die rug na die kyker gekeer. Hy tuur vanaf ’n soort uitkykpunt oor ’n landskap in die mis met enkele rotspunte en bome wat uitsteek. In die verte is pieke bokant die mis sigbaar.
Dit val ’n mens onmiddellik op dat dié landskap in portretformaat, met ander woorde vertikaal, geskilder is. Daarmee vestig Friedrich die oog terstond op die figuur reg in die middel van die komposisie (let op die lyngebruik wat die figuur des te meer beklemtoon) en nie die landskap nie. Dit gaan immers nie oor die landskap nie, maar oor die landskap deur die oë van die figuur. En op dié manier dalk oor die binnelandskap van die figuur.
Vir die Romantiek het die soeke na emosie nêrens só gestalte gekry as juis in die natuur nie. En ten beste in die suiwer berglug waar die soekende siel een kon word met die sublieme – hoe dit ook al geïnterpreteer is: die mens as plaasvervanger van God of die mens in verwondering oor die grootsheid van God.
Die natuur was die vertrekpunt, maar nie die eindpunt nie. Die eindpunt was kuns. Die sublieme is bereik deur kuns en die effek van kuns op die mens. Daarom skilder Friedrich nie maar net ’n landskap met mis en bome en berge nie, maar gee die kyker hierdie dubbelperspektief.
So belangrik as wat berge vir die Romantiek was, so was ruïnes. Maar waar ruïnes in die nieu-Klassieke tyd ’n herinnering aan die volmaakte vorms van die Grieke was, was ruïnes vir die kunstenaars van die Romantiek aanduidings van onvolkomenheid en die nostalgie van verlore skoonheid. Die voorliefde vir ruïnes blyk eweneens uit die verse van die digters van die Romantiek, byvoorbeeld dié van Percy Byssche Shelley.
In Friedrich se Abtei is monnike besig om ’n kollega in ’n sneeubedekte en verlate landskap te begrawe. Die skildery met die bouval van die abdy en die yl bome vergestalt die dood van ’n verbygegane wêreld. En straks die hunkering na die sekerheid wat dit sou kon bied.
(hooffoto)
Caspar David Friedrich se Der Wanderer über dem Nebelmeer, 1818, olie op doek (98,4 cm x 74,8 cm). Dié skildery hang in die Kunsthalle in Hamburg, Duitsland.