Johan Myburg skryf oor die Nederlandse skilder Jan (Johannes) Vermeer (1632-1675)
Johan Myburg
Ná Gustav Friedrich Waagen en Théophile Thoré-Bürger se 1866-opstel is 35 van dié twee se oorspronklike lys as outentieke Vermeers geëien – die somtotaal wat bekend is van dié meester se werk.
In teenstelling met sy tydgenote het Vermeer bitter min geproduseer en ewe min biografiese inligting is oor hom bekend. Hy het geen tekeninge of briewe nagelaat nie en gevolglik weet ons besonder min omtrent sy tegniek.
Vermeer het op 20 begin skilder en dis onbekend wie sy leermeester was. Die volgende jaar, in 1653, is hy getroud en het by sy skoonfamilie ingetrek. Hy is in 1675 op 43-jarige ouderdom dood en het sy vrou en 11 kinders agtergelaat. Sy vrou het sy dood aan stres en geldelike druk toegeskryf.
Tot en met die ineenstorting van die Nederlandse ekonomie teen die begin van die 1670’s het Vermeer se skilderye goeie pryse gehaal.
’n Mens moenie vergeet presies hoe goud die Nederlandse Goue Eeu inderwaarheid was en watter belangrike rol kuns in die 17de-eeuse samelewing gespeel het nie. Dit was nie ongewoon dat ‘n gewone bakker, slagter of smid tuis ’n klein kunsversameling gehad het nie.
Vermeer se skilderye van meestal interieurs met noukeurige komposisies, sy gebruik van lig, sy belangstelling in optiese effekte en sy ongewoon primêre kleurgebruik het dalk aanleiding gegee tot teorieë dat hy ’n camera obscura as deel van sy werkmetode ingespan het.
Hoe hy ook al sy skilderye gemaak het, sy verbysterende tegniek bly indrukwekkend – veral wat hy regkry met die spel van kleur en lig.
Sowat ’n derde van sy skilderye het musiek as onderwerp. Een van dié werke is Die kitaarspeler (c 1670-1672) in olie op doek (53 x 46,3 cm), tans in Kenwood House in Londen, en een van die mooiste voorbeelde van ’n laat-Vermeer.
Daar is steeds die vars kleurgebruik wat die werk sy glimmende gehalte gee, maar die kwashale is vryer asof kleur belangriker as tekstuur word. Nietemin bly Vermeer ’n meester van die weergawe van satyn wat vloei en vou (in die rok).
Daar is heelwat elemente in dié werk wat vrae ontlok: Soos die figuur van die vrou wat so ver na links geplaas is dat ’n deel van haar arm in die slag bly; die “negatiewe ruimte” wat bra onaktief gelaat word tussen die figuur en die gordyn; en die ongewone gebruik om die lig van regs te laat inval teenoor die gebruiklike manier van links (soos in Die meisie met die pêreloorbel, Die vrou wat melk giet, ens.).
Daar is verskeie aspekte in dié skildery waarop ’n mens sou kon fokus (soos die skildery in die swaarvergulde raam agter die vrou, die kitaar wat as musiekinstrument al hoe gewilder begin word het, en die betekenis van die boeke neffens haar), maar dis die oop muur tussen die kitaarspeler en die gordyn wat as’t ware ’n mens se aandag boei.
Met sy fokus op afgewitte mure skep Vermeer nie net diepte in sy skilderye nie; hy gebruik dié noukeurig geverfde vlakke as ’n peiling van die ligkwaliteit én luim in die vertrek.
(hooffoto)
Jan Vermeer se skildery Die kitaarspeler (c 1670-1672) in olie op doek (53 x 46,3 cm).