Johan Myburg skryf oor Lisa Gherardini, die vrou van die welgestelde Florentynse syhandelaar, ene Francesco del Giocondo
Johan Myburg
Geheimsinnigheid skyn te kleef aan die sitter en die skildery, wat as die beroemdste kunswerk ter wêreld bekend is.
Dis deur geskrifte van Giorgio Vasari (1511-1574) bekend dat Leonardo (1452-1519) onderneem het om ’n portret van Francesco del Giocondo se vrou te maak, maar omdat daar g’n geverifieerde beeltenis van Lisa Gherardini is nie, was dit nog altyd onmoontlik om te bewys dat sy die model vir die Mona Lisa was.
Navorsers het onlangs met ’n ondersoek begin om vas te stel of die DNS van oorblyfsels uit die familietombe, waar haar man en seun in Firenze begrawe is, met die beendere ooreenkom wat in 2012 in ’n nabygeleë klooster gevind is en wat as dié van Leonardo se model beskou word. Die vermoede is dat Gherardini in die klooster begrawe is.
As ’n verwantskap bewys kan word, sal forensiese antropoloë van die universiteit in Bologna met behulp van 3D-rekonstruksie ’n rekenaarvoorstelling van Gherardini kan maak.
In 2004 het ’n Franse ingenieur op versoek van die Louvre in Parys, waar die Mona Lisa uitgestal word, begin met navorsing op dié kleinerige meesterstuk van 77 x 53 cm, op ’n populierplank van sowat 10 mm dik geskilder.
Pascal Cotte, ’n navorser wat in kleur en lig spesialiseer, is toestemming gegee om die Mona Lisa uit haar glaskas én raam te haal en met sy multispektrumkamera te beloer. Hy het die skildery van hoek tot kant met sy gevorderde tegnologie bekyk en ’n hele paar ontdekkings gemaak.
Soos dat die model se gesig aanvanklik skraler was, dat sy wel ooghare en wenkbroue gehad het en dat sy met haar regterhand ’n kniekombersie vashou – wat met die blote oog nie meer sigbaar is nie.
Ná 500 jaar se verweer, veroudering van vernis, skoonmaakmetodes van onnadenkende restoureerders deur die eeue én waterskade, is La Gioconda nie naastenby die vrou wat sy in die vroeë 16de eeu was nie. Sy het verdonker, haar gesig is plomper, haar rok is van sy kant kwyt en haar wenkbroue en ooghare het verdwyn.
Volgens Cotte is dit duidelik dat die oogarea op die portret die meeste restourasie ondergaan het. Dis een van sy hipoteses dat die skoonmaak rondom die oë die rede is waarom dié vrou rondom die oë haarloos is.
En boonop blyk dit die skildery was oorspronklik minder geel-groen. Die oorspronklike kleurgebruik was varser en blouer.
Vir haar gesig het Leonardo van die glacis-tegniek gebruik gemaak waarvolgens ’n helder en deursigtige verf op ’n digter verf aangebring word om iets van ’n lig-skadu-spel te vergestalt. Daarby is dié portret ’n goeie illustrasie van ‘sfumato’, die Renaissance-tegniek wat op sagte skadu’s ‘wat soos rook verdamp’ eerder as harde lyne neerkom.
Leonardo het vermoedelik in 1503 aan die portret begin werk en dit onvoltooid gelaat.
Dis bekend dat hy die skildery in 1516 saam met hom na Frankryk geneem het. Daarna is dit in die Versailles-versameling opgeneem.
Ná die Franse Revolusie is dit na die Louvre waar dit gehang het tot Napoleon dit in sy slaap- en later badkamer gehang het – waar dit waterskade opgedoen het.
In 1956 het ’n man suur op die onderste deel uitgegooi toe dit in Montauban, Frankryk, vertoon is. In Desember van daardié jaar het ’n man ’n klip na die skildery gegooi, wat ’n merk onder die linkerelmboog gelaat het.
Maar al kan ’n mens ’n hele boel geheime rondom dié skildery ontdek, glimlag dié vrou bykans 500 jaar later nog geheimsinnig en laat jou vermoed sy weet steeds veel meer as wat laat glip is.
(hooffoto)
Leonardo da Vinci se Mona Lisa, die portret wat as dié van Lisa Gherardini, die vrou van die welgestelde Florentynse syhandelaar ene Francesco del Giocondo beskou word.