Johan Myburg skryf oor die werk van die Suid-Afrikaanse kunstenaar Gerard Sekoto (1913-1993)
Johan Myburg
Dié eerste van ‘n stel wette het mettertyd daartoe gelei dat heelparty Suid-Afrikaanse kunstenaars, soos Sekoto, hulle in selfopgelegde ballingskap in die buiteland gaan vestig het.
Sekoto se pa was ‘n priester en onderwyser. Die plan was dat Sekoto in sy pa se voetspore sou volg en hy het in 1928 sy opleiding as onderwyser aan die Botshabelo-opleidingsentrum begin. Dis waar hy met kleurkryt begin teken het.
Sy eerste onderwyspos was aan die Khaiso- sekondêre skool buite Pietersburg en daar het hy met die skilder Ernest Mancoba vriende gemaak.
In 1938 het hy vir ‘n kunskompetisie ingeskryf wat deur Fort Hare in die Oos-Kaap gereël is. Sekoto het die tweede prys gekry. Die wenner was George Pemba.
Vasbeslote om voortaan heeltyds kunstenaar te wees, het Sekoto hom in 1939 in Sophiatown, Johannesburg, gevestig.
Dieselfde jaar het hy aan ‘n groepuitstalling in die Gainsborough-galery deelgeneem en in 1940 het die Johannesburg Kunsmuseum een van sy skilderye, Yellow Houses, aangekoop. Dit was die eerste werk deur ‘n swart kunstenaar wat dié museum aangeskaf het.
In 1942 het hy na Distrik Ses in Kaapstad en in 1945 na Eastwood in Pretoria verhuis.
Die sukses van ‘n uitstalling in die Gainsborough-galery en die Christies-galery in Pretoria in 1947 het hom in staat gestel om later daardie jaar na Parys te vertrek.
Ná ‘n moeilike eerste jaar in Parys – hy kon geen woord Frans praat nie – het Sekoto die volgende jaar die Engels-magtige Raymond de Cardonne en sy vrou, die galery-eienaar Else-Clausen, ontmoet. Hoewel hy in 1948 ‘n geslaagde uitstalling in Galerie Else-Clausen gehad het en aan ‘n groepuitstalling in de Tate in Londen deelgeneem het, het Sekoto voortgegaan om saans in kroeë klavier te speel. As gevolg van die mengsel van emosionele probleme en alkohol is hy vir ‘n kort rukkie in ‘n inrigting opgeneem. Uit dié tyd kom ‘n reeks sketse van sy medepasiënte.
Ná sy ontslag het hy ‘n kamer by Marthe Baillon gehuur met wie hy later ‘n verhouding aangeknoop het wat vir 30 jaar, tot en met haar dood in 1976, geduur het.
In die vroeg-vyftigs is Sekoto se werk van Swede tot die VSA vertoon. In Suid-Afrika is sy werk gereeld in Kaapstad, Pretoria en Johannesburg vertoon.
Ná Baillon se do d het die onsekerheid van die beginjare in Parys stadig weer deel van Sekoto se lewe geword. Hy was sonder geld en sonder blyplek. Boonop het hy talle van sy vriende van hom vervreem.
Die sketse wat Sekoto in 1949 van medepasiënte in die St Anne-inrigting in Parys gemaak het, is in 1984 deur Chabani Manganyi, ‘n vriend van Sekoto, na Suid-Afrika gebring. Barbara Lindop, die vrou wat later die Sekoto-projek sou begin, het die sketse gesien en met groot toewyding die Suid-Afrikaanse media, galerye en tersiêre instellings op die belang van Sekoto as skilder begin wys.
Lindop, wat twee jaar gelede instrumenteel was in die uitstalling Song for Sekoto in die Wits-kunsmuseum in Johannesburg, het verskeie boeke oor dié kunstenaar geskryf en was tot en met sy dood ‘n goeie vriendin van Sekoto.
(hooffoto)
Selfportret, 1947, olie op bord (45 cm x 34,5 cm), ‘n werk van Gerard Sekoto geskilder in die jaar waarin hy Suid-Afrika verlaat het. Dié werk is in ‘n private versameling opgeneem.