Johan Myburg skryf oor die manier waarop ‘n mens na kuns kyk. Of nié kyk nie
Johan Myburg
Van kleins af word kinders geleer om te praat, te lees en te skryf, maar selde om te luister. En nog minder om te kyk.
Dit verduidelik dalk ‘n generasie (of generasies) se lae vlak van visuele geletterdheid. Want benewens blindheid is daar ‘n hele paar goed wat ‘n mens se vermoë om te kan kyk, belemmer.
As dit by kuns kom, is die eerste belemmering dat dit altyd mooi moet wees; dat net dít wat verheffend is, kuns is; dat net die volmaakte proporsies soos in die klassieke wêreld van die Grieke kuns is; of dat alleenlik representatiewe weergawes kuns is. En iets soos abstraksie byvoorbeeld nie.
“Oor smaak kan daar geen uitsluitsel wees nie,” het die Romeine al gesê. En dit is waar. ‘n Mens kan hou waarvan jy wil. Maar dit beteken nie dat ‘n mens blind moet wees vir dit wat nié jou smaak is nie.
Dit is dikwels juis goed soos “skoonheid”, of “waarheid” en “beskawing”, of “status”, wat ‘n mens se sig befoeter.
Dit was John Berger wat benadruk het dat dit wat ‘n mens sien, deur dit wat jy weet of glo beïnvloed word.
As ek byvoorbeeld na ‘n landskap kyk, wil ek hê die landskap moet aan my verwagtings van ‘n landskap voldoen: dit moet lyk soos iets wat ek ken, herken of na verlang. Of straks iets wat ek sou wou hê.
Maar daar is meer aan kyk. ‘n Britse koerant het in 2011 ‘n opname gemaak van die tyd wat besoekers in Londen se Tate Britain voor ‘n paar kunswerke deurbring. As jy ‘n kunsmuseum besoek, vermoed ‘n mens tog wel ‘n belangstelling. Twee van dié voorbeelde uit dié opname: Voor die pre-Rafaeliet John Everett Millais se Ophelia was die gemiddeld 1 minuut 57 sekondes. Voor Damien Hirst se Anthraquinone -1 Diazonium Chloride was die gemiddeld 5 sekondes.
Die blad se afleiding was dat besoekers nie van kontemporêre kuns, soos dié van Hirst, hou nie. Maar die feit dat so min tyd aan kunswerke afgestaan word, spreek boekdele. Hoe lank vat dit byvoorbeeld om ‘n roman deur te lees, of om na ‘n simfonie te luister? Of om na ‘n fliek te sit en kyk?
As ‘n mens werklik na ‘n kunswerk (of dit nou ‘n skildery, video, foto, beeldhou-, installasie- of performance-werk is) wil kyk, moet jy ook “formeel” na die kunswerk kan kyk: na goed soos lynwerk, kleur, ruimtelikheid, volume, tekstuur en materialiteit. En dan is daar nog omstandigheidsgetuies, die konteks waarin die werk gemaak is: die sosiale omstandighede en politieke klimaat, én die breër visuele kultuur waarbinne die werk staan.
Dit klink dalk oorweldigend, maar dit is nie anders as met lees nie. Aanvanklik lees ek net die goed waarvan ek hou. Maar gaandeweg kom ek agter my leesbehoeftes is aan ’t uitbrei. Namate ek meer lees, bou ek ‘n groter verwysing op. So is dit ook met kunswaardering.
“Hou van” is nie die enigste kriterium nie, maar ook “meer weet van”. ‘n Mens lees tog om meer te weet van die wêreld waarin jy leef. Kuns kan, soos boeke, ‘n mens aan daardie wêreld blootstel. Wat nie altyd so skoon, of waar of beskaafd is nie.
Met kunsgeskiedenis nie meer ‘n skoolvak nie, is visuele geletterdheid nie aan die toeneem nie en gans te min word hieraan gedoen.
(hoof foto)John Everett Millais se Ophelia (1851/2) wat in die Tate Britain in Londen hang.