Kunstenaars het hul werk meer onafhanklik en gevolglik subjektief benader
Johan Myburg
Die uitbeelding van historiese oomblikke het in die werk van Francisco de Goya (Die derde Mei 1808, 1814), Théodore Géricault (Die vlot van Medusa, 1818-‘19), Eugène Delacroix (Die massamoord by Chios, 1824, en Vryheid lei die volk, 1830) bly voortleef, maar met dié verskil dat die lyding van gewone burgerlikes ook in die skilderye tereg gekom het.
Namate die kerk en die staat nie langer opdragte vir kunswerke gegee het nie, het kunstenaars hul werk meer onafhanklik en gevolglik subjektief benader. Groeiende kritiek op die geïdealiseerde Klassieke benadering en die eksotiese sweem van die Romantiek het daartoe gelei dat kunstenaars voortaan net dít wou weergee wat hulle in die werklikheid óm hulle waargeneem het. Dit was inderdaad die opkoms van die moderne wêreld en daarmee saam die aanbreek van moderne kuns.
Teen 1840 was die beweging, wat as die Realisme bekend staan, taamlik gevestig in Frankryk.
Net soos wat die skrywers van die tyd, Émile Zola, Honoré de Balzac en Gustave Flaubert, die daaglikse doenighede van gewone mense beskryf het, het kunstenaars soos Gustave Courbet, Jean-Baptiste Corot en Honoré Daumier tonele begin skilder wat kykers dikwels onthuts het.
In 1861 het Gustave Courbet (1819-1877) woorde gegee aan die strewe van die Realisme toe hy gesê het: ‘Skilder is in wese ’n konkrete kuns wat alleen maar die bestaande werklikheid wil vergestalt.’
Dit het Courbet sonder twyfel gedoen en voorwerpe geskilder wat voorheen as boertig en selfs vulgêr beskou is. Dié goed het hy geskilder met al die oneffenhede soos wat dit net in die natuur kan voorkom. En in die proses het hy al die akademiese idees omtrent kuns verwerp.
Op 50 het Courbet immers opgemerk: “Ek het nog altyd vry geleef. Laat ek die laaste deel van my lewe ook só deurbring. En as ek sterf, mag daar van my gesê word: Hy het aan g’n skool behoort nie, aan g’n instelling of akademie nie, en hy was aan g’n regering onderdanig nie, behalwe dié van vryheid.”
Met sy Begrafnis in Ornans, 1850, die uitbeelding van sy grootoom se begrafnis, het Courbet op die Paryse Salon van daardie jaar aan die een kant lof ingeoes en aan die ander kant hom die argwaan van die publiek op die hals gehaal weens “die vulgariteit waarmee die dorpenaars uitgebeeld word, en die hardheid leesbaar op die priesters se gesigte”. Daar was mense wat gemeen het Courbet probeer opsetlik lelikheid uitbeeld.
Maar toe die publiek se beheptheid met Romantiek eindelik begin taan, het ’n begrip vir dié werk ontwikkel soos Courbet dit bedoel het: “Die Begrafnis in Ornans is in werklikheid die begrafnis van die Romantiek.”
Vir dié werk dalk, maar van Courbet se ander werke soos Jong vroue op die oewer van die Seine, 1856, en by uitstek ’n naakstudie soos Die oorsprong van die wêreld, 1866, het talle mense steeds rooi in die gesig gehad.
In die geval van Jong vroue op die oewer van die Seine was dit, volgens sommige kunshistorici, die feit dat die vroue in hul “onderklere” op die gras lê. Maar miskien was dit juis dat dié vroue tekenend was van die modern era wat aangebreek het. Die kyk in die oë van die vrou naaste aan ’n mens was vir die besoekers aan die 1857-Salon dalk die probleem. Selfs al was sy naak, sou dit dalk aanvaarbaarder as daardie smeulende blik gewees het.
Maar soos Courbet gesê het: “Skilder wil die bestaande werklikheid vergestalt.”
Gustave Courbet se Begrafnis in Ornans, 1850, olie op doek. Dié skildery hang in die Louvre in Parys.